OUDTSHOORN NUUS - 'n Gewone munisipale raadsvergadering is verlede Vrydag in die raadsaal, wat onlangs in gebruik gekom het gehou.
Dit is met glaspanele, wat die publiek en media van raadslede skei, afgebaken.
Wapens
Tydens die vergadering het raadslede besluit wat met twaalf wapens en ammunisie, wat by die verkeersdepartement gehou word, moet gebeur.
Advies is van die regsafdeling ingewin om die wapens of aan die museum te skenk of die wapens by SAPD in te handig sodat hulle dit kan vernietig. Raadslede het eenparig besluit dat die vuurwapens asook ammunisie wat by die verkeersdepartement gehou word, aan die staat verbeurd verklaar sal word vir vernietiging.
Biblioteke
Nog een van die besprekingspunte was die moontlike sluiting van die minibiblioteek in Volmoed wat in 2013 geopen is asook die versoeke van 'n minibiblioteek vir onderskeidelik, Schoemanshoek- en Klipdrift-omgewing.
Die raad het eenparig aanbeveel dat 'n aansoek by die departement van kuns, kultuur en sport, vir 'n mobiele of minibiblioteek vir al die landelike gebiede indien moet word.
Daar is ook besluit dat die Volmoed-biblioteek oop sal bly en dat EPWP-werkers (uitgebreide program vir openbare werke) oorweeg moet word vir hulp by dié biblioteek.
Die raad het ook besluit dat geen boetes vir boeke wat uitstaande is, in Maart gehef sal word nie. Dit is omdat die nuwe gerekenariseerde databasis, SLIMS tans nie in werking is nie. Biblioteke werk tans op die ou handsisteem.
'n Kennisgewing sal by al die biblioteke opgestel word en alle skole in die Groter Oudtshoorn sal in kennis gestel word dat boeke wat uitstaande is, ingegee moet word en geen boetes in hierdie periode gehef sal word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’