OUDTSHOORN NUUS - UCCSA-dag (United Congregational Churches of Southern Africa) is op Sondag 2 Oktober op luisterryke wyse deur kerke in die Outeniqua-streek in Oudtshoorn gevier.
Dit was die 55ste herdenking van die UCCSA wat destyds op 3 Oktober in Durban gestig is toe die London Missionary Society, die Congregational Union of South Africa, die American Board Mission en die Bantu Congregational Church saamgesmelt het.
Die eerste Sondag in Oktober is toe bepaal as UCCSA-Dag, ook bekend as 'Congregational Day' met die hoofdoel om fees te vier en te reflekteer op die reis tot dusver as 'n UCCSA-familie.
Die diens in die Bridgton United Congregational Church is gelei deur die sekretaris van die SA sinode, eerw. Bertram Swarts.
Die diens is voorafgegaan deur 'n optog van gemeentelede van die 17 kerke in die Outeniqua-streek van UCCSA met vlae en baniere gelei deur brigade-orkeste.
Kerse is ook tydens die diens aangesteek vir die sewe kerke in Angola, Botswana, Namibië, Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe wat ook deel uitmaak van UCCSA. 'n Addisionele kers was ook aangesteek vir die 20ste bestaansjaar van die SA UCCSA-sinode.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'