OUDTSHOORN NUUS - Vandag begin een van die vreemdste en mees onbekende tydperke in meeste Suid-Afrikaners se lewens.
Deur afsondering gaan ons poog om vir 'n mikroskopiese karakter weg te kruip totdat hy uitgewoed of verslaan is.
Vir ten minste drie weke gaan gesinne 24/7 in mekaar se spasie wees en sal moet leer om alles saam te doen, en dit onder een dak.
Maar, deur hierdie afsondering kry ons 'n gulde geleentheid tot eenheid. In die proses om nie rond te ry en sosiaal te verkeer nie snoer die een ding wat ons moet doen, afsonder, ons saam as een nasie.
Daarom is die boom van eenheid wat Woensdag buite Oudtshoorn opgerig is, vir my 'n belangrike simbool van wat vorentoe in ons dorp gaan gebeur as hierdie Oosterse gogga eers sy gang gegaan het en ons kan weer aangaan.
Aangaan, nie met ons normale lewens nie, want ek glo dat normaal voortaan 'n heel ander gesig gaan hê.
Of die virus lewensgevaarlik is of nie, of hy beplan is of nie, of ons oorreageer of nie, is nie die kwessie nie. Die kwessie is dat ons van nou af anders na ons lewens en hoe ons lewe, behoort te kyk.
Foto: Hannes Visser
Die boom is die enigste tasbare "oorlewende" van die KKNK en hy staan waar hy staan. Meer as ses meter hoog met 'n stam van staal, bykans 4 000 ekostene en sement en 'n ysterkroon is die boom nie slegs 'n simbool van eenheid nie, maar ook een van hoop.
Drie rampe het Oudtshoorn getref waardeur nie een enkele inwoner onaangeraak is nie. Eers was dit die droogte, toe die KKNK en nou totale inperking.
So, vir 'n verandering het ons vandag nie 'n voorblad met nuus nie, maar een met 'n wens; Mag almal iets uit hierdie virus leer, mag ons almal veilig, slimmer en meer emosioneel volwasse anderkant uitkom.
Bly asseblief by jou huis, doen jou deel sodat ons as 'n eenheid anderkant uitkom en soos Anton Roetz en Kallie Koch se boom regop kan staan.
Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'