OUDTSHOORN NUUS - Twee prominente sportfigure, Frans Beets (78) en Jacky September (42) is verlede week oorlede.
Beets, 'n oudmakelaar, was vir dekades 'n lid van die Oudtshoorn-gholfklub. Hy het ook in die negentigs die taak as "draw master" vir die klub vervul.
Beets se seun, Naas, onthou sy pa as 'n beginselvaste mens: "Hy was my rolmodel vir wie daar net 'n reg of verkeerd was - geen grysareas tussen in. Sy werketiek is verseker sy nalatenskap aan ons."
Beets is Sondag in sy slaap in die Mediclinic Klein-Karoo oorlede nadat bloedarmoede 'n ruk gelede by hom gediagnoseer is. Die Oudtshoorn-gholfklub het hul innige simpatie aan die familie oorgedra en gesê dat oom Frans diep spore getrap en baie van sy vrye tyd daaraangewy het om die gholfbaan 'n beter omgewing te maak.
Frans Beets
September was ten tyde van sy heengaan 'n munisipale amptenaar.
Hy was ook 'n oudrugbyspeler, afrigter en spanbestuurder van die Bridgton-rugbyklub. Hy het verlede Donderdag in die Mediclinic Klein-Karoo aan Covid-19-komplikasies beswyk.
Sy vrou Jessica, het Jacky as haar steunpilaar en goeie vader vir hul drie kinders beskryf. Die klub het Dinsdag ter ere van Jacky 'n verbyry-blommelegging by die oop parkeergebied by die vulstasie in Bridgton gehou. Sy begrafnis vind Saterdag om 11:00 in Vygiehof 436 plaas.
Bridgton-rugbyklub het hul innige meegevoel aan die September-familie betuig en sy heengaan as 'n groot verlies bestempel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'