OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans wat aan voertuigdiefstal skuldig bevind is, is in die streekhof vir vonnisverrigtinge tot November uitgestel.
Patrick Alexander (27) en Duran Donson (22) het skuldig gepleit op die aanklagte dat hulle in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2021 ‘n Toyota Tazz op ‘n grasperk naby die Oudtshoorn-gholfbaan sien staan het, waar ‘n groep mense besig was om te kuier.
Die sleutels van die motor was nog in die aansitter, maar hulle kon die motor nie aangeskakel kry nie. Hulle het dit toe aan die brand gestoot en weggery.
Nadat hulle in die woonbuurt rondgery het, het hulle dit in Kanaalweg, Bongolethu, gelos en met die battery op vlug geslaan.
Die staat het die twee se pleitverduidelikings aanvaar en hulle is deur streeklanddros Sylvia Mandla aan voertuigdiefstal en diefstal skuldig bevind.
Vonnisoplegging is tot 2 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'