OUDTSHOORN NUUS - Twee van die drie mans van Oudtshoorn, wat van roof met verswarende omstandighede aangekla was, is in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind en tronkstraf opgelê terwyl die derde ontslaan is.
Justin Booysen (24), Brandon Mooi (24) en Anthony Harmse (26) is daarvan aangekla dat hulle op 14 Augustus 2017 in Michaelstraat, Bongolethu, 'n buitelandse eienaar van 'n spazawinkel, met 'n panga en mes gedreig, geskop en geslaan, en van sigarette ter waarde van R730, twee selfone ter waarde van R2 200 en kontant van R1 900 beroof het.
Booysen en Mooi is skuldig bevind en die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof vir die minimum vonnis van 15 jaar gevra omdat albei relevante vorige veroordelings op hul rekords het.
Streeklanddros Neels Nortjé het vir vonnisoplegging in ag geneem dat die beskuldigdes reeds vir byna drie jaar in aanhouding is en elk tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'