OUDTSHOORN NUUS - Twee lede van die Resq-911-ambulansdienste op Oudtshoorn is Woensdagnag 10 km buite Aberdeen in ‘n ongeluk dood. Volgens David Boois, eienaar van Resq-911, was drie van sy lede op pad na Queenstown om voorraad te gaan haal vir ‘n sportgeleentheid wat hulle op Oudtshoorn sou dek.
Die ambulans waarin die drie was, het Woensdagoggend omstreeks 01:00 ‘n koedoe getref. Die koedoe het deur die windskerm geval en Hilton Naudé van Oudtshoorn, is op die toneel dood.
Sy kollega, Nomawabu Mpemnyama, ook ‘n paramedikus, is met ernstige beserings na die hospitaal op Graaff-Reinet geneem waar sy aan haar beserings beswyk het.
Die derde lid is ook in Graaff-Reinet se hospitaal opgeneem en sou na verwagting gister ontslaan word. Boois het gisteroggend gesê hy was reeds by Naudé se ma in Oudtshoorn om die gesin te ondersteun en begrafnisreëlings te tref en het bygevoeg dat Resq-911 alle kostes sal dra.
Hy het daarna na Umtata vertrek om die familie van Mpemnyama te besoek en te ondersteun. “Dit was ‘n tragiese ongeluk, ek het ‘n paar minute voor die ongeluk nog met een van hulle gesels,” het hy gesê en bygevoeg dat die ongeluk ook traumaties was vir die personeel wat in ‘n tweede ambulans na die Oos-Kaap onderweg was om ‘n pasiënt te gaan haal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'