OUDTSHOORN NUUS - "Hy was 'n goeie seun wat regtig nie verdien het om so dood te gaan nie. Hy het nie mense skade aangedoen nie, en het hard gewerk vir ons."
So sê die gebroke pa van Morgan Malgas (23), Phillip Malgas. Morgan is die afgelope naweek in Neppon doodgesteek. Hy was een van twee persone wat die naweek vermoor is.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat Morgan om 02:45 in Neppon dood is.
"Lede van die polisie is na 'n toneel in die bosse naby Bella Rosastraat ontbied. Die polisie het 'n man met 'n steekwond in sy bors gevind. Paramedici het die man ook op die toneel dood verklaar."
Spies sê ooggetuies op die toneel het gesê dat twee mans met mekaar baklei het toe die voorval gebeur het. 'n 17-jarige is vir die moord in hegtenis geneem.
Volgens Malgas was sy seun 'n lieflike kind.
"Ons ken die seun wat hom doodgesteek het. Dit is sy neef. Ons weet net nie waaroor hulle baklei het nie. Ons het geslaap toe die bure ons kom roep het en gesê ons moet kom kyk waar lê ons seun."
Hy is net 'n paar meter van die huis af oorlede.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Hoogstraat-moord
Spies sê die ander voorval was om 21:15 in Hoogstraat waar 'n 33-jarige man, Roydon Solomons doodgesteek is.
Die speurders in Oudtshoorn ondersoek twee klagtes van moord na twee persone in twee afsonderlike voorvalle vermoor is.
"Daar word beweer dat twee mans met mekaar baklei het. Een is 'n steekwond in die nek toegedien. Die slagoffer is deur paramedici op die toneel dood verklaar." 'n 20-jarige man is later in hegtenis geneem.
Wyle Morgan Malgas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’