Die bestuurskomitee van Arbeidsgenot het verlede Saterdag, tydens 'n spesiale middagete dank betuig aan Apools wat in 1972 by Arbeidsgenot begin werk het.
Hy en sy eggenote Maria, hul vier dogters en kleindogter was Saterdag die eregaste by 'n ete in die Neelsie.
Die bestuurskomitee van Arbeidsgenot het as blyk van waardering vir Apools se jare lange diens 'n nuwe stoof en 'n reeks duursame potte en panne as afskeidsgeskenk oorhandig. 'n Aangedane Apools het gesê dat hy soveel mense tydens sy diensjare ontmoet het en soveel goeie herinneringe aan Arbeidsgenot het dat hy met 'n swaar hart weggaan.
"Maar ek sal nog gereeld kom kyk of my tuin mooi opgepas word, en kyk of alles natgehou word," het hy gesê.
Een van die komiteelede, Jan Odendaal, het gesê dat die beste getuigskrif wat 'n mens vir iemand kan gee is die bevestiging dat die persoon getrou, eerlik en lojaal is. "Poek, ek dink selfs Langenhoven sou saamstem as ons sê dat jou getrouheid, eerlikheid en opregtheid die mooiste getuigskrif is wat gegee kan word. Dit was 'n groot voorreg om saam met jou te kon werk."
Mariana Swanepoel, wat vir 21 jaar die kurator van Arbeidsgenot was en nou deeltyds instaan om te help met die dag tot dag bestuur het Odendaal se woorde bevestig. "Ek het 21 jaar saam met Poek gewerk. Ons gaan hom vreeslik mis, die plek gaan nie dieselfde wees sonder hom nie."
In die tuin het Poek rondgestap en gewys watter bome hy self geplant het. "Hier het drie groot ou koejawelbome gestaan. Ek het hulle destyds uitgehaal en gras en struike hier geplant. " Hy wys rond, "Daai bome, en daai een, en daai gras en doerie bedding het ek geplant. En daai palmbome was al voor my hier, en daai boom ook." Dan raak hy 'n ruk stil en skud sy kop. "Dit gaan moeilik wees om als hier te los, dit was 'n lang tyd wat ek en die tuin saamkom."
'n Nuwe tuinier is nog nie aangestel nie en volgens Swanepoel gaan Arbeidsgenot intussen van tuindienste gebruik maak.
Die direksie en bestuur van Arbeidsgenot het Saterdag afskeid geneem van Apools Konyn wat die afgelope 41 jaar die tuinier by Arbeidsgenot was. Van links is: Zannie van der Walt (Alg Bestuurder) met Poek se kleinkind op die arm, Eureka Barnard (Bestuurshoof, SA Sentrum vir Nederland en Vlaandere en vorige lid van bestuur), Maria Konyn, Apools (Poek) Konyn, Yvonne Smuts (Direksie), Mariana Swanepoel (Assistent en Direksie), Jan Odendaal (Direksie) en Alma Botes (Tesourier).