LADISMITH NUUS - 'n Vrou (58) van 'n plaas in die Ladismith-distrik, wat haar man van net drie maande met 'n mes wou afskrik en hom toe doodgesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Katrina Nel het erken dat sy Johannes Nel met 'n mes gesteek het toe hulle weer soos gewoonlik oor naweke baklei het.
Sy sê in haar verklaring dat sy geskok was toe hy op die vloer geval het en het toe na die bure gehardloop om hulp te kry.
Sy het onskuldig gepleit op die hoofklag van moord, maar wel skuldig aan strafbare manslag en gesê dat sy nou haar lewe verander het.
Haar regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof gevra om haar ouderdom en die feit dat sy 'n eerste oortreder is vir vonnisoplegging in ag te neem. Sy is berouvol oor wat gebeur het en het nie bedoel om haar man dood te maak nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het egter beklemtoon dat sy aan 'n ernstige misdaad skuldig bevind is en ten minste vir 'n tyd agter tralies moet deurbring
Streeklanddros, Sylvia Mandla, het met vonnisoplegging gesê die gemeenskap kyk met vertroue op na die howe vir gepaste vonnisse.
"Die hof moet 'n boodskap uitstuur dat dié soort misdaad nie geduld kan word nie."
Nel is op aanbeveling van die staat sowel as die verdediging ingevolge Artikel 276 (1) (ï) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat sy na die uitdiening van tien maande van die vonnis om parool aansoek kan doen. Sy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'