CALITZDORP NUUS - "Dis die ergste ding wat 'n mens op die aarde kan doen."
So het streeklanddros Daniël Boks gesê toe hy 'n man van Kruisrivier-Wes in die Calitzdorp-distrik aan moord skuldig bevind en vir 12 jaar tronk toe gestuur het.
André Arnoldus (20) het Ezelda Arnoldus (31), sy saamleefmaat en ma van twee kinders, sewe keer met 'n mes gesteek. Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, is Arnoldus in die bors, arm, bobeen, skouer en nek gesteek. Een van die steekwonde het die vrou se hart en long deurdring en sy het in totaal twintig beserings opgedoen.
"Die beskuldigde het nie omgegee nie. Mense se lewens het goedkoop geraak."
Plaatjies het toegegee dat drank 'n rol gespeel het.
"Feit is dat mans vandag vroue gereeld aanrand en op 'n dag té ver gaan. Die gemeenskap moet teen mense soos André Arnoldus beskerm word."
Arnoldus het skuldig gepleit op aanklag van moord wat deur die hof as 'n mate van berou beskou is.
Die voorval het op 9 Mei vanjaar plaasgevind toe die vrou geweier het om saam met Arnoldus vanaf Groenfontein waar hulle gekuier het, terug te gaan na Kruisrivier.
Hulle het begin stry en hy het 'n mes uitgehaal en haar herhaaldelik daarmee gesteek. Nadat hy haar so wreed aangerand het, het hy haar tot onder 'n boom gesleep waar hy aan die slaap geraak het. Toe hy wakker skrik en na haar roep het sy nie gereageer nie. Hy het weggehardloop omdat hy besef het sy is dood.
Boks het met vonnisoplegging Arnoldus se optrede as sinneloos en barbaars beskryf en gesê die hof moet vonnisse oplê wat andere afskrik en verhoed dat die gemeenskap die reg in eie hande neem. Volgens die landdros behoort families mense soos Arnoldus met hul drinkery te help.
Volgens die landdros sit twee minderjarige kinders nou sonder 'n ma terwyl die veertienjarige nou heeltemal wees is omdat haar pa op dieselfde dag, maar in 'n heel ander voorval, ook vermoor is.
Hy het afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir moord omdat wel dwingende en wesenlike omstandighede daarvoor voor die hof is.
Arnoldus is 'n eerste oortreder en het oop kaarte met die hof gespeel. Hy was ook lank verhoorafwagtend.
Hy is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'