DYSSELSDORP NUUS - 'n 52-jarige man, wat vir die derde keer 'n beskermingsbevel verbreek en sy vrou drie keer met 'n hamer teen haar kop geslaan het, is Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof tronk toe gestuur nadat hy weer hand en mond belowe het dat hy dit nooit weer sal doen nie.
Kerneels Wildeman het volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, in 2005 en 2007 ook dieselfde beloftes in die hof gemaak maar nie daarby gehou nie.
Hy het sy vrou, Dorothy Wildeman, die aand van 5 November 2020 in haar bed waar sy langs haar dogter gelê het herhaaldelik met die hamer gekap.
Hy het dit ontken en gesê dat dit net een keer was en dat sy die ander beserings moes opgedoen het toe sy geval het. Hy het verder getuig dat hy sy vrou om verskoning gevra en sy hom vergewe het.
"Ek is baie spyt oor wat ek gedoen het en ek sweer dat ek nooit, nooit weer my hande vir my vrou sal lig nie. Ek is baie teleurgesteld in myself en erken dat dit gevaarlik was om haar met ‘n hamer op haar kop te slaan. Ek het ook besluit om nooit weer te drink nie," het Wildeman gesê.
Sy vrou het getuig dat sy haar man se verskoning aanvaar en dat sy veilig sal voel indien hy buitestraf kry sodat hy vir hulle kan gaan werk.
Die staatsaanklaer het dit aan haar gestel dat sy nou "tussen die boom en die bas" is. "Dit is tussen u lewe en die beskuldigde se geld. U soebat nou namens hom."
Wildeman het volgens Smith by die twee vorige geleenthede dieselfde storie vertel en tog vir ‘n derde keer ‘n beskermingsbevel verontagsaam.
Sy bekommernis is dat hy nie wil sien me. Wildeman word 'n lyk nie. Volgens hom het die mishandeling van vroue 'n pandemie in die land geword.
Sy versoek is dat die hof Wildeman moet help en hy onder die omstandighede eintlik van poging tot moord aangekla moes word. Sy vrou het lewensgevaarlike beserings opgedoen. Hy is nie 'n vreemdeling nie, maar die man van 'n vrou met wie hy al 21 jaar getroud is.
"Die hof sal die beskuldigde in die steek laat as hy nie direkte gevangenisstraf opgelê word nie."
Wildeman se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof vir 'n totaal opgeskorte vonnis gevra wat soos 'n swaard oor sy kop sal hang. Hy het ophou drink en reeds sy les geleer.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Wildeman aan die verbreking van ‘n beskermingsbevel skuldig bevind. Hy het vir 'n derde keer dieselfde misdaad teen dieselfde vrou gepleeg
"Gesinsgeweld kom voor tussen mense wat mekaar lief moet hê en nie mishandel nie." Sy stem nie saam met die beskuldigde dat hy so dronk was nie.
"Mense weet baie goed wat hulle doen en kom dan in die hof sê dat hulle dit nooit weer sal doen nie. Môre is die slagoffer dood."
Volgens haar het opgeskorte vonnisse in die verlede nie die beskuldigde gekeer nie en sal dit ‘n verkeerde boodskap uitstuur.
Wildeman is ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat hy na tien maande om parool aansoek kan doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'