OUDTSHOORN NUUS - ‘n 21-jarige man van Lategansvlei in die Oudtshoorn-distrik, wat sy meisie ses keer met ‘n mes gesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan ernstige aanranding skuldig bevind is.
Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging van Jeandré Manuel gesê dit was ‘n sinnelose aanranding van ‘n vrou en vanweë die erns daarvan, die staat geweier het om die saak terug te trek.
Volgens die landdros sou die saak nooit in die hof beland het as dit nie was vir die polisie wat op die toneel aangekom het en hulle werk gedoen het soos hulle veronderstel is om te doen nie.
“Dit kon maklik moord gewees het, ” het Boks gesê.
Kommerwekkend is die feit dat die vrou, die ma van Manuel se kind, hom so jammer gekry het dat sy geweier het om hospitaal toe te gaan, die klagte wou terugtrek en versoek het dat hy nie tronk toe gestuur moet word nie.
Die hof het egter bevind dat tronkstraf die enigste gepaste vonnis sal wees omdat ‘n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig ‘n verkeerde boodskap sal uitstuur.
“’n Ligter vonnis sal nie die gewenste uitwerking hê op persone wat nie hul woede kan beteuel nie. Die beskuldigde was gewelddadig op dié dag en speel nou slagoffer.”
Manuel is ingevolge Artikel 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat hy na die uitdiening van ‘n sesde daarvan om parool kan aansoek doen. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'