OUDTSHOORN NUUS - Twee van die mees toegewyde deelnemers aan Trapsuutjies se maandelikse #trashtag is onlangs genomineer vir die Caroline Reid CleanUp Champion of the Year 2019-toekenning.
Lisl Barry (skilder) en Jaco Kriek (oogkundige) het sedert Maart 2019, toe die eerste #trashtag in aanloop van KKNK25 gehou is, elke byeenkoms behalwe een, bygewoon.
"Caroline Reid, wat in 2018 tragies dood is, was 'n marinebewaringsaktivis wat honderde see- en duikskoonmaakaksies gekoördineer het. Ek is besonder bevoorreg dat ek vir so 'n toekenning, wat haar werk eer, benoem is," sê Jaco.
"Ek is veral opgewonde omdat sulke nominasies hopelik jongmense kan aanmoedig om ook betrokke te raak by inisiatiewe soos #trashtag, wat help om ons omgewing skoner, veiliger en gesonder te wil maak," sê hy.
Lisl word gereeld gesien (nie net tydens #trashtag nie) waar sy rommel optel.
"Dit is veral sigaretstompies en klein lekkergoed- en ander papiertjies wat 'n dorp sommer gou vuil laat lyk en kieme versprei," vertel sy. "As elkeen net sy deeltjie wil doen en nie rommel strooi nie, sal die dorp soveel anders lyk en soveel lekkerder wees om in te woon en werk. Dit sal ook wys dat mense die natuur en ons plaaslike riviersisteem respekteer en daarvoor omgee," sê sy.
Die wenner van 2019 Caroline Reid Toekenning is Alison Bryant van die "Keep Plett Campaign" wat benewens R10 000 kontant, ook 'n wisseltrofee gewen het.
Enigeen wat wil deelneem aan Oudtshoorn se #trashtags, kan Samantha Lewis kontak by carolinel756@gmail.com of 065 801 4810.
Hierdie inisiatief het ten doel om bewusmaking te skep rondom rommel, en om mense aan te moedig om nie te mors nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'