OUDTSHOORN NUUS - Trapsuutjies nooi inwoners om aan hul heel eerste skoonmaak-blitz-veldtog deel te neem. Dit vind op 20 Maart vanaf 10:00 tot 12:00 plaas.
Susan Botha van Trapsuutjies sê hulle wil graag die hele dorp hierby betrek en hulle beoog om die Grobbelaarsrivier skoon te maak.
Volgens Botha beplan hulle om dit op 'n gereelde basis te doen. Die idee is om soveel moontlik herwinbare materiale bymekaar te maak sodat hulle eco-bricks kan maak.
"Eco-bricks is wanneer twee liter koeldrankbottels gevul word met herwinbare materiale. Jy moet genoeg indruk en baie sodat die bottel nie kan buig as dit gebruik word nie. Die eco-bricks kan gebruik word om strukture in jou tuin ens. op te rig," verduidelik Botha.
Volgens haar gaan die eerste skoonmaak-blitz vet pret wees.
"Ons nooi almal om in spanne in te skryf of individueel. Ons gaan pryse hê vir die spanne wat die meeste vullis bymekaar maak, die beste gees het en die beste aantrek. Ons wil kyk hoe vinnig ons die dorp kan skoon maak."
Deelnemers kan volgende Woensdag om 09:30 langs die rolbalbaan in St Johnstraat aanmeld. Daar sal die Trapsuutjies-span swart sakke en handskoene aan almal oorhandig.
Vir meer inligting stuur 'n e-pos aan kathrineventer3@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'