DYSSELSDORP NUUS - Die trane het geloop toe 'n pastoor van Dysselsdorp, wat van kinderverkragting aangekla was, Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en vrygespreek is.
Die staat het beweer dat Elias Jacobs (48), 'n negejarige kind in Desember 2015, in sy huis verkrag het toe hulle alleen was.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het aangevoer dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en vir sy vryspraak gevra.
Streeklanddros Daniël Boks, het Dinsdag in sy uitspraak gesê teenstrydige getuienis van die kind se ouma en 'n verpleegkundige van 'n kliniek op Pacaltsdorp ten opsigte van afskeidings op die kind se onderklere twee maande na die beweerde verkragting laat 'n groot vraagteken.
Die kind het wel 'n goeie indruk op die hof gemaak. Volgens haar het sy nie die beweerde voorval onmiddellik aan haar ma oorgedra nie omdat sy bang was die beskuldigde maak haar seer.
Voorts het Jacobs 'n alibi voor die hof gebring wat daarop dui dat hy nie ten tyde van die beweerde verkragting by sy huis was nie.
Hy het nie gewerk nie en is omstreeks 11:00 saam met sy dogter na 'n kliniek. Hulle het eers teen 18:00 teruggekeer. Die kind het getuig dat sy na skool deur hom verkrag is.
Die beskuldigde se getuienis word volgens die hof gestaaf deur ander getuies.
Oor Jacobs se alibi het die hof bevind dat dit net verwerp kan word indien staatsgetuienis daarteen oorweldigend is.
"Die hof sit met twee weergawes en leuenagtigheid van die beskuldigde dui nie op skuld nie. Daar is gevolglik twyfel by die hof of die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en moet die voordeel van die twyfel aan die beskuldigde gaan," het die landdros afgesluit en Jacobs vrygespreek.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'