OUDTSHOORN NUUS - 'n Twis oor die tender van mobiele toilette in die informele nedersettings van die dorp het die week tot groot ongelukkigheid onder inwoners gelei.
Inwoners van verskeie informele nedersettings in die dorp het Maandag voor die munisipale gebou vergader en besoekers toegang tot die gebou geweier.
Hulle het daarop aangedring dat 'n amptenaar met hulle oor die verandering van die tender praat. Die versekering is gegee dat iemand Dinsdag met hulle sou praat. Toe niemand Dinsdag opdaag nie, het die inwoners van Hopeville tussen die gholfbaan en die begraafplaas die N12-hoofpad na De Rust versper.
Volgens Zyna Mduma, 'n inwoner van Hopeville, het die huidige diensverskaffer al vir jare die kontrak vir die mobiele toilette en is almal uiters tevrede met die diens. Sy beweer egter dat die maatskappy wat die tender nou ontvang het tweedehandse toilette wil aflaai en dat die toilette in 'n swak toestand is.
Lede van die SAPD rig 'n versoek aan inwoners om die pad oop te maak. Foto's: Hannes Visser
Volgens Phillip Olivier, die eienaar van Top Loos wat die afgelope 12 jaar die toilette aan nedersettings voorsien en diens, het hy die afgelope maande talle skrywes aan die munisipaliteit gerig om sy kommer oor die nuwe tender uit te spreek.
"Ek het verskeie kere met die munisipaliteit probeer kontak maak en vir hulle bewyse gestuur van kwessies waarvolgens hulle na die nuwe tender moet kyk. Ek het gevra dat hulle moet ondersoek instel, maar daar het niks van gekom nie."
Alhoewel die munisipaliteit teen druktyd nog nie op 'n skriftelike navraag gereageer het nie, het Reginald Smit, waarnemende munisipale bestuurder, Dinsdag tydens 'n mediasessie gesê volgens hom was die tenderproses deursigtig en volgens alle voorskrifte afgehandel. Hy sê dat beweringe dat 'n amptenaar met die proses ingemeng het, ondersoek sal word as 'n klag ontvang word, maar dat hy nie bewus is van enige inmenging nie. Hy het ook daarop gewys dat enige party die reg het om 'n dispuut aan te teken sodat die tenderproses deur 'n hof getoets kan word.
Volgens Olivier voorsien hy al die afgelope 12 jaar toilette en sanitasiedienste aan nedersettings in Oudtshoorn en sy prys en tenderpunte was altyd die beste.
"Ek verwag nie dat ek die tender moet kry nie. As ander maatskappye goedkoper is, is dit so, maar die proses moet wettig en regverdig wees," het hy Dinsdag gesê.
Volgens hom is die nuwe tender onrealisties laag en die nuwe maatskappy het hom glo genader om sy toilette en infrastruktuur by hom te huur. "Ek is nie bereid om dit waaraan ek vir 12 jaar gewerk het aan 'n ander diensverskaffer te verhuur nie, hulle moet mos hulle eie toilette en infrastruktuur hê."
Hy het ook Woensdag gesê dat hy nog geen kennisgewing van die munisipaliteit ontvang het om aan te dui wanneer hy sy toilette moet verwyder nie.
"Ek het maar by mense gehoor die nuwe maatskappy neem op 1 September oor."
In reaksie op 'n vraag of die nuwe diensverskaffer se toilette op standaard is aangesien daar beweringe van die teendeel is, het Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, gesê dat die maatskappy die versekering gegee het dat hulle dienste van dieselfde gehalte sal wees as die huidige diens. "Hulle moet op 1 September begin en as daar enige aanduiding is dat hulle toerusting nie op standaard is nie, sal die munisipaliteit ingryp."
Volgens hom is hy bewus van die gerugte oor bedrog en sal hulle ondersoek instel.
Intussen hou sommige informele nedersetters voet by stuk dat hulle die nuwe maatskappy nie gaan toelaat om die bestaande toilette te vervang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'