OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rusttoerisme-buro in samewerking met Big Tree Marketing het die week hul eerste fam trip van die jaar aangebied waartydens 'n groep toeroperateurs en lede van die media toerismeattraksies in en om Oudtshoorn besoek.
Dit was 'n Oudtshoorn- en De Rusttoerisme-inisiatief en Big Tree Marketing het met die reëlings gehelp.
Volgens Tammy Moult, voorsitter van die toerismeburo, is bemarkingsgeleenthede soos dié van kardinale belang sodat hulle toeroperateurs van regoor die land kan wys watter ongelooflike geleenthede Oudtshoorn aan toekomstige toeriste kan bied.
"Covid het die toerisme bedryf die afgelope jaar byna lam gelê. Veral omdat buitelandse toeriste nie binne die land toegelaat word nie. Ons fokus dus nou meer op die plaaslike mark. Ons kan dit nie doen sonder ons toeroperateurs wat weer op hulle beurt ons dorp en streek aan toeriste bemark nie."
Die operateurs het onder meer die Kangogrotte, Surval, Meiringspoort, Safari Volstruisplaas, Cango Wildlife Ranch, Doemein Doornkraal, Buffelsdrift en Spensplaas besoek.
Links agter is Tammy Moult en Corleen Barnard, toerismebestuurder van die toerismeburo saam met die toeroperateurs. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'