DE RUST NUUS - Lede van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor het verlede Vrydag saam met beamptes van die munisipale- en provinsiale verkeersdepartemente, raadslede, wetstoepassers en die polisie vir die eerste keer sedert die Covid-pandemie hul jaarlikse verwelkomingsveldtog buite De Rust gehou.
Volgens Corleen Barnard, toerismebestuurder, was dit lekker om na twee jaar weer toeriste in die Klein-Karoo te verwelkom.
"Dit maak 'n mens bly om te sien dat mense in die Karoo kom kuier. Na die uitbreek van die Covid-19-pandemie kon ons nie mense die Karoo-verwelkoming gee soos ons altyd het nie. Vanjaar was ekstra spesiaale aangesien ons dit so lank terug kon gedoen het."
Barnard het almal wat gehelp het om van die dag 'n sukses te maak, bedank.
Vir toeriste sê sy: "Welkom in ons pragtige streek en geniet die feesseisoen. Ons wens almal 'n geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar toe.
"Ek hoop dat almal veilig by hul bestemmings sal aankom."
Regs is Corleen Barnard (toerismebestuurder) saam met die Klein-Karoo Kers-meerkat.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'