Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Billy Engelbrecht en Daniëla Fourie is Woensdagaand tydens die Oudtshoorn-toerismeburo se algemene jaarvergadering, vir die tweede agtereenvolgende termyn, onderskeidelik as die voorsitter en ondervoorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekomitee herkies.
Barend Smit van die Protea Hotel by Marriott Oudtshoorn Riempie Estate, en Pienaar Muller van Wilgewandel, is ook as nuwe komiteelede verwelkom.
Fourie, het in die afwesigheid van Engelbrecht, die voorsittersverslag aan die gaste voorgelees.
Volgens haar het die buro 'n baie suksesvolle jaar beleef en sy het veral klem gelê op die bemarkingsgeleenthede wat in Suid-Afrika sowel as oorsee bygewoon is.
"Corleen Barnard, ons kantoorbestuurder, het onlangs teruggekeer van haar laaste oorsese besoek waar sy Oudtshoorn in Suidoos Asië bemark het.
Die veiligheid van ons toeriste, veral in die middedorp, is vir ons van kardinale belang en ons komitee het reeds verskeie vergaderings hieroor gehad. Ons is besig met planne om Oudtshoorn 'n veilige toerisme dorp te maak en inligting hieroor sal, sodra alles gefinaliseer is, aan almal oorgedra word."
Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekommitee is voor, van links: Alison Moos, Daniëlia Fourie (ondervoorsitter), Niel Els, Shanel Lambrechts en Corleen Barnard (toerisme bestuurder). Agter: Tammy Moult, Jan Venter, Barend Smit en Pienaar Muller. Afwesig: Billy Engelbrecht (voorsitter), Suné Linde, Helene Retief en Lanie-Marie Roets.
Tammy Moult, ook 'n lid van die komitee, het die gaste meer oor die buro vertel.
"Ons het toonbanke op De Rust, by die Kango-grotte en by die Ostrich Emporium. Ons wil soveel moontlik toeriste wat ons streek besoek bereik en dit vir hulle gerieflik en gemaklik maak om inligting te verkry."
Sy sê hulle primêre doel is om besoekersgetalle van binnelandse- sowel as buitelandse toeriste te verhoog deur middel van bemarking.
Die gasspreker van die aand was Teddy Ntsente, van die toerisme graderingsvereniging.
"Ons gradeer onder meer gastehuise, hotelle en toeriste-attraksies op grond van die kwaliteit van hul akkommodasie, konferensiefasiliteite en toeroperateurs."
Volgens hom is daar talle voordele verbonde om 'n ster-gegradeerde instansie te wees en kan aansoeke slegs aanlyn gedoen word.
Die aand is met 'n gelukstrekking en heerlike sop en roosterkoek afgesluit.
Dit was 'n gesellige aand. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'