OUDTSHOORN NUUS - "Ons het baie lank gewag om vir julle die nuus te kon gee, maar toerisme beleef 'n opwaartse kurwe en ons kan met goeie moed sê dit gaan definitief beter."
Dit was die boodskap van Tammy Moult, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor tydens hulle algemene jaarvergadering verlede week.
Moult het vertel dat hulle ten spyte van Covid steeds bemarkingsgeleenthede gehad het en dat hulle duidelik kan sien dat die Oudtshoorn- en De Rust-streek die vrugte daarvan werp.
"Wat gehelp het om toerisme weer te laat ontpop was die verhoudings wat ons oor die jare met verskeie agente, agentskappe en ander toerismeburo's gebou het. Deurlopende bemarking, al was dit aanlyn en met die kleinste begrotings, het ongelooflik baie gehelp. Hoewel ons steeds in baie opsigte op die plaaslike mark staatmaak, was daar 'n reusegroei in toeriste van Indië en die VK. Die Kango-grotte is onder die topvyf mees besoekte plekke in die provinsie sedert 2019," het sy gesê.
Volgens haar doen die grotte die laaste ruk besonder goed.
"Die restaurant is ook oop vir besigheid en die toere deur die grotte is al 'n geruime tyd terug na normaal."
Moult sê die Tuinroete en die Karoo is sedert Mei een van die topdrie plekke om te besoek.
"Dus, as gastehuise nie genoeg besprekings kry nie, is dit definitief nie as gevolg van dalende toeristesyfers nie, maar omdat die markte waarop gastehuise fokus nog besig is om te stabiliseer."
Volgens haar gaan die Cango Wildlife Ranch ook 'n Indiese restaurant oopmaak om te verseker dat meer Indiese toeriste in Oudtshoorn oornag.
James Hassan van Thompsons Africa was die gasspreker van die aand en het die gaste ingelig oor hoekom hy sy toere na Oudtshoorn bring en ook sy ervaring oor die groei in toerisme sedert Covid.
Volgens hom kom daar busse vol besoekers na Suid-Afrika en is van sy toeriste se gunsteling stopplekke Oudtshoorn.
"Inwoners moet altyd onthou dat daar net een Oudtshoorn en een Kango-grotte is, maar daar is verskeie ander grotte in Suid-Afrika om te besoek. Dus is bemarking belangrik. Nie net van die grotte af nie, maar die beeld wat die mense na buite uitdra oor die grotte en ander besienswaardighede, maar ook die dorp. Inwoners en besigheidseienaars dra ook by tot die bemarking van 'n dorp, al is dit onbewustelik."
Hassan het ook gesê dat dorpe meer op die Asiese- en Afrika-mark moet fokus.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'