OUDTSHOORN NUUS - Die buitelandse toeris wat Maandagoggend voor die Queen's Hotel deur 'n motor getref is, het 'n operasie aan haar skouer ondergaan. Sy was deel van 'n groep van 19 besoekers uit Israel wat Sondagaand by die Queen's Hotel oornag het.
Volgens die toerleier was hy omstreeks 07:30 besig om die bus voor te berei vir die groep se vertrek na die grotte toe die ongeluk gebeur het.
Dit blyk dat die toeris en haar man aan die oorkant van die straat was om foto's van die hotel te neem. Met die terugstap het die vrou voor 'n aankomende Hyundai Atos beland.
Sy is op die toneel behandel en per ambulans na die Mediclinic geneem. Haar skouer is in die botsing gebreek en sy het ook ligte hoofbeserings opgedoen.
Volgens die bestuurder van die Atos het hy die man en vrou op die middelmannetjie gesien staan. "Toe ek by hulle kom het sy reg voor my ingeloop, daar was geen manier dat ek betyds kon stop nie."
Een van die toerlede het op die toneel genoem dat die vrou moontlik verward was met die rigting waarin die verkeer vloei en nie besef het daar is aankomende verkeer aan haar linkerkant nie.
Dit is nie bekend of die toeris en haar man later weer by die toergroep gaan aansluit nie.
Die deel van die toer waarop die groep tans is, het verlede Donderdag uit die Kaap vertrek en sou volgende Dinsdag in Port Elizabeth eindig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'