Update
OUDTSHOORN NUUS - Volgens die nasionale misdaadstatistiek wat onlangs bekend gemaak is, het veediefstal landwyd gemiddeld met 7% toegeneem.
"Omdat meer as 60% van veediefstalsake nie aangemeld word nie, kan ons nie met sekerheid sê hoeveel veediefstal in die Klein Karoo toegeneem het nie, maar daar is beslis 'n toename," sê a.o. Fasie de Kock, operasionele bevelvoerder van die Oudtshoorn eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies.
Plaasdiere wat geteiken word, sluit skape, volstruise, perde en varke in.
Diefstal van skape vind byna daagliks plaas. In een geval vroeër vanjaar is altesaam 56 skape op een boer se plaas gesteel. Volgens De kock was die boer met verlof en het klaarblyklik die buurman gevra om 'n oog op sy plaas te hou. Toe hy terugkom, was sy skape weg. Die buurman het blykbaar gesien die hekke lê oop, maar nie ondersoek ingestel nie. In twee ander gevalle die afgelope maand is vasgebinde skape langs die pad gevind.
Volgens hom word volstruise van vere gestroop wat dan verkoop word. "In een geval is drie plaaswerkers aangekeer wat 10 kg vere ter waarde van R10 000 gepluk en verkwansel is vir R50 en 'n 5liter-kan wyn elk. In nog 'n geval is volstruise so erg gepluk dat een gevrek het."
Perde word deur tienerseuns gesteel bloot net om hulle te ry totdat hulle neerslaan en dan net daar te laat. Wat die diefstal van varke aanbetref sê De Kock in die meeste gevalle wat by hulle aangemeld word, word varke deur mede-varkboere gesteel.
Die rol van boere
De Kock noem dat sommige boere se nalatigheid en onwilligheid om hulle samewerking aan die polisie te gee tot die probleem bydra. Hy noem die volgende kwelpunte:
- Die boere merk nie hul vee nie, wat beteken eienaarskap kan nie bewys word nie.
- Eienaars se veeregisters is nie op datum nie en die vee word nie gekraal of getel nie.
- Plaasheinings word nie onderhou nie.
- In een geval waar 'n klomp vee weens honger en dors gevrek het, is dit aangemeld as veediefstal.
- Boere neem té lank om veediefstal aan te meld.
"Hoe vinniger die diefstal aangemeld is, hoe beter is die kans dat die oortreders vasgetrek kan word."
Potslagters
Vee-eienaars in die omgewing van Dysselsdorp en De Rust loop veral deur. "In die meeste gevalle is dit potslagters – 'n persoon wat deur sosiaal-maatskaplike omstandighede gedwing word om 'n dier te slag vir kos, maar in sommige gevalle word die vleis aan sjebiens verruil vir dwelms of drank."
Wanneer potslagters aangekeer word, word hulle dikwels met 'n waarskuwing vrygelaat. "Ons howe besef nie die erns van veediefstal nie. In die Vrystaat word boere wat nie hul vee merk nie, R1500 per grootvee-eenheid en R500 per kleinvee-eenheid beboet," sê De Kock.
Lees 'n vorige artikel: Toename in veediefstal
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'