OUDTSHOORN NUUS - Daar was Maandagoggend groot vreugde in die Thusong-sentrum toe die Oudtshoorn-munisipaliteit die titelaktes aan 53 nuwe Bongolethu-huiseienaars e oorhandig het. Die huise is in 2016 gebou en nog dieselfde jaar deur die begunstigdes betrek.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het 'n beroep op die ontvangers gedoen om hul titelaktes te bewaar en nie hul huise vir 'n appel en 'n ei te gaan verkoop nie. Volgens hom is die oorhandiging van titelaktes nie net die versekering van eienaarskap nie, maar ook die herstelling van waardigheid.
Een van die begunstigdes, Satchmo Coerecius, kon uit sy vel spring nadat hy sy dokument van die onderburgemeester, Noluthando Mwati, ontvang het.
"Vandag is 'n groot dag omdat ek nou 'n bewys het dat ek eiendom besit. Ek is nou seker dat ek 'n huis het. Nie net vir my kinders nie, maar ook vir my kleinkinders." het hy gesê.
Mwati het aan die ontvangers gesê om 'n nuwe huis te besit ook nuwe verantwoordelikhede bring.
Die waarnemende direkteur van menslike nedersettings, Shehaam Simms, het in haar toespraak gesê dat daar reeds van die begunstigdes is wat hul huise, sonder titelaktes, verkoop het en dat die munisipaliteit die gevalle sal ondersoek.
Volgens haar kan 'n begunstigde sy huis eers na agt jaar verkoop, maar net indien 'n beter huis bekom is.
Begunstigdes wat intussen oorlede is se huise sal aan die kinders toegeken word indien die oorledene 'n testament opgestel het. Sy het die nuwe huiseienaars geloof vir die wyse waarop die meeste van hulle hul erwe tot dusver verfraai het. "Dit lyk pragtig," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'