OUDTSHOORN NUUS - Hugo Theart, boorling van Stellenbosch, is verlede maand as artistieke-direkteur van Kunste Onbeperk op dié maatskappy se algemene jaarvergadering aangestel. Hy was die afgelope jaar die waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk nadat Rhode Snyman die tuig neergelê het.
Theart is 'n voormalige student van die Universiteit van Stellenbosch waar hy drama (BA) studeer het.
Daarna het sy loopbaan as vryskutakteur begin, maar hy het gou besef dat hy sy vaardighede sal moet diversifiseer indien hy aspirasies koester om sy vlerke in dié bedryf te sprei. Voordat hy by Kunste Onbeperk betrokke geraak het, het hy grotendeels teaterproduksies vervaardig.
Hy vertel dat hy reeds in gr.3 sy eie toneelstuk geregisseer en vervaardig het. "Die stuk was nie 'n groot sukses nie, maar die passie was darem vroeg-vroeg reeds daar", het hy geskerts.
Op 'n vraag wat sy visie vir Kunste Onbeperk is, het hy gesê dat 'n land arm is sonder die kunste. "Toegepaste teater en musiek kan helend wees vir 'n nasie wat daagliks gebuk gaan onder traumatiese ervaringe op enige vlak.
Om hierdie rede is Kunste Onbeperk se rol nie noodwendig gefokus om deelnemers akteurs of musikante te maak nie, maar eerder om te dien as 'n vorm van terapie, en ook om belangrike lewensvaardighede aan te leer." Volgens Theart is daar natuurlik 'n verskeidenheid ander feeste wat Suid-Afrikaanse inwoners kan bywoon.
KKNK is egter 'n fees wat aan die voortou bly, wat die grense voortdurend uitdaag, en wat elke jaar iets nuuts en vars aan gehore bied, het hy bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'