KLEIN KAROO NUUS - Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga se onlangse aankondiging dat gr. 7- en gr. 12-leerders vanaf 1 Junie weer moet terugkeer klaskamer toe het duisende ouers van skoliere landwyd warm onder die kraag.
Die gewildste teenargument van baie ouers is dat hierdie skuif onder vlak 3 van die nasionale grendeltydperk hopeloos te vroeg is, omdat leerders se gesondheid in gevaar gestel word.
"Ons is nog nie eens in die piek van die gevreesde koronavirus, maar die regering wil ons kinders terugstuur skool toe terwyl parlementslede self nie bereid is om na die parlement terug te keer nie.
"Veral in die Wes-Kaap versprei die virus volgens die statistieke vinniger as in enige ander provinsie. Hoe kan ek my kinders in goeie gewete skool toe stuur wetend die gevare verbonde?" wou 'n bekommerde ouer weet.
Die departement van onderwys het egter verlede week 'n handleiding vrygestel wat duidelik stipuleer dat streng veiligheidsvoorsorgmaatreëls by skole gevolg moet word om ouers se vrese te besweer. Onderwysers het intussen reeds aangemeld by skole om dié voorskrifte te bespreek en hoe dit geïmplementeer gaan word.
Ouers het ook die keuse om nie hul kinders skool toe te stuur nie mits hulle vir privaat onderrig by die huis registreer.
Indien ouers besluit om hul kinders vir die jaar te onttrek sal dié leerder hul graad in 2021 moet herhaal en ook heraansoek doen vir 'n plek by hul onderskeie skole - indien daar plek beskikbaar is.
Aan die ander kant van die muntstuk is daar ook 'n argument dat sommige skoolkinders veiliger by die skool is as by die huis is, terwyl leerders by sekere skole ook van voedsel voorsien word. Die Oudtshoorn Courant het met skoolhoofde van 'n hoër- en laerskool op Oudtshoorn gesels oor die vordering van die voorgeskrewe veiligheidsplanne van die departement van basiese onderwys.
Daclon Aries, hoof van Bergsig Primêr is oortuig daarvan dat dié skool aan al die voorwaardes sal voldoen wanneer sy gr. 7-
leerders op 1 Junie by die skoolhek instap.
"Die hele skoolterrein tesame met die klaskamers was reeds voor die inperkingsmaatreëls met bleikmiddels ontsmet en die proses sal wéér herhaal word voordat die leerders die klaskamers betree. Verder sal ons gewone perioderooster effens aangepas word omdat meer as een onderwyser vir die dieselfde klas aangewend sal word sodat die nodige sosiale afstand gehandhaaf kan word.
"Die departement het ook onderneem om maskers vir leerders en onderwysers te verskaf sowel as sanitasiemiddels."
Volgens Aries sal sy skool se voedingsprogram voortgesit word. Gedurende skooltyd sal gr. 7-leerders van etes voorsien word terwyl nie-skoolgaande leerders in die skool se area op Dinsdae en Vrydae by die skool vir voedsel kan aanmeld. "Ons skool sal geen steen onaangeraak los om ons kinders se veiligheid tot die beste van ons vermoë volgens die departement se riglyne te beskerm nie, " het Aries beklemtoon.
Stephanus Potgieter, hoof van Langenhoven Gimnasium, sê dat sy personeel reeds vir twee weke lank besig is om alles in plek te kry vir wanneer hul gr. 12-leerders op 1 Junie aanmeld.
"Ons skool se ruim skoolsaal en gimnasium sal voortaan ingespan word om as klaskamers te dien terwyl een onderwyser klasgee en 'n ander een toesig hou. Slegs een leerder per bank sal in gewone klaskamers toegelaat word en sommige vakke sal in twee of selfs drie klasse opgedeel word om by die sosiale afstand spesifikasies te hou.
"Pouses en die gebruik van kleedkamers sal met arendsoë gemonitor word sodat selfs hier die nodige sosiale afstand toegepas word.
"Die rekenaars se sleutelborde en toerusting sal ook met elke klaswisselling ontsmet word vir leerders wat rekenaartoepassingstegnologie (RTT) klasse ontvang. Volgens Potgieter sal die klasperioderooster vir die gr. 12-leerders presies dieselfde wees.
Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium.
Foto's Wyndham Ewerts
"Ons het ook groot planne vir die toekoms om steeds onderrig met behulp van Zoom en Google Classroom te gee vir kinders wat siek voel. Selfs onderwysers wat om een of ander rede nie by die skool teenwoordig kan wees nie, sal met dié tegnologie steeds klas vir sy leerders kan gee.
So ja, ons is ten volle gereed om onderrig te verskaf soos per instruksies deurgegee deur die departement van onderwys, " het Potgieter gerusgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'