OUDTSHOORN NUUS - 'n Man, wat deur sy slagoffer aan tatoeëermerke aan sy gesig en nek uitgeken is, is in die Oudtshoorn-streekhof 20 jaar tronkstraf vir verkragting opgelê.
Anton May (40) is daarvan aangekla dat hy 'n hoërskoolleerder wat van 'n partytjie onderweg huis toe was, voorgekeer en verkrag het.
May is een van 'n paar verkragters wat deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in hegtenis geneem is.
Die vrou het getuig dat die beligting in die straat haar in staat gestel het om die tatoeëermerke onder May se oë en aan sy nek te sien en hom daarna by twee geleenthede gesien het, voordat hy in hegtenis geneem is.
Volgens haar was die woord "hond" duidelik leesbaar aan sy nek.
Volgens haar is sy nie onmiddellik na die polisie nie omdat sy bang was vir haar ma. Sy het egter later alles vir haar ouma vertel. Sy het May daarna op 'n Saterdag by Wilck Spar gesien en hom uitgeken aan sy velkleur, lengte, skerp neus en die tatoeëermerke.
Op 'n ander geleentheid het sy hom in Dassieweg gesien en hom, saam met ander vroue aangerand.
May het die verkragting ontken en gesê dat hy baie mense in Oudtshoorn ken met tatoeëermerke aan hul gesigte en die klaer 'n fout maak met sy identifikasie.
Streeklanddros Daniel Boks het egter sy getuienis as vals verwerp en die klaer se getuienis as betroubaar bevind. Sy is verneder en het getuig dat sy voel soos iemand wat niks werd is nie. Iemand wat nie waardig is nie. Nadia Arnolds was die aanklaer terwyl Cindy Murray-Smith van die Regshulpraad namens May verskyn het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'