OUDTSHOORN NUUS - Tabakverbouing het die afgelope paar jaar as een van die belangrikste alternatiewe bedrywe in die Klein-Karoo na vore getree.
Ter wille van bestaande en nuwe toetreders word 'n Tabakdag op Dinsdag 3 April op die terrein van die NG Kerk, Schoemanshoek, aangebied waartydens dié groeiende, winsgewende bedryf toegelig gaan word.
"Bestaande tabakprodusente en potensiële toetreders wat 'n behoefte aan 'n alternatiewe landbouproduk in die Klein-Karoo het, is welkom om die Tabakdag by te woon," sê Chris Botha, voorsitter van die SA tabakklub.
Die Tabakdag word gesamentlik aangebied deur die departement van landbou se Oudtshoorn-navorsingsplaas, Universal Leaf SA (ULSA) en Timac. Agro SA sprekers tydens die Tabakdag is Tinus de Beer, voorheen 'n plantteler van die Landbounavorsingsraad (LNR) wat nuwe tabakkultivars ondersoek.
"Nuwe kultivars word voortdurend ondersoek met die oog op positiewe kenmerke, soos bestandheid teen siektes en hoër opbrengste," sê Botha. Deelnemers aan die Tabakdag sal deur die loop van die middag 'n proefaanplanting van nuwe kultivars op 'n nabygeleë plaas besoek.
Dr. Sonia Steenkamp, LNR-navorser, sal die voorkoms en beheer van aalwurm toelig. "Aalwurm is die belangrikste 'onsigbare' bedreiging vir tabakplante omdat dit die wortelstelsel aantas, wat veroorsaak dat die tabakplant nie voedingstowwe kan opneem nie, wat tot 'n swak opbrengs lei," sê Botha.
Hennie Boshoff, tabakbemesting-deskundige, voorheen verbonde aan die LNR, sal grondgesondheid, -verbetering en -bewaringspraktyke toelig.
Jaco Malan, uitvoerende direkteur van ULSA, sal die vooruitsigte vir die tabakbedryf in die Gamtoos (Oos-Kaap) en Klein-Karoo (veral Oudtshoorn) toelig.
"Universal Leaf Tobacco (internasionaal) vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar en die vooruitsigte van die tabakbedryf is beter as ooit tevore. Nuwe toetreders kan met vrymoedigheid en vertroue by die bedryf betrokke raak," sê Malan.
Die hoofspreker, Francois van der Merwe van die Tabakinstituut van Suid-Afrika (TISA), sal die invloed van onwettige tabakverhandeling op die tabakbedryf toelig, met die fokus op watter teenmaatreëls die produsent kan tref.
Die departemente van arbeid en grondsake sal ook geleentheid kry om kortliks met produsente te gesels oor hulle onderskeie rolle in landbou.
Deelnemers aan die Tabakdag kan vanaf 11:30 op Dinsdag 3 April registreer. "Omdat 'n vol program beplan word, begin die Tabakdag stiptelik om 12:00 en loop omstreeks 17:00 ten einde," sê Botha. Die dag word afgesluit met 'n gratis geselligheid op die terrein.
Bevestig bywoning voor 28 Maart met Chris Botha by 084 250 2483 of Janno Koen by 082 703 2470.
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'