Die jong mannetjie het Sondagnag uit die park gebreek. Parkpersoneel het te voet en soms met lugondersteuning die sein van sy satelliet-radiokraag gevolg totdat hy Vrydagoggend sowat 20 km noordwes van die park in die Nuweveldberge opgespoor is.
Hy is verdoof en is in verdoofde toestand op ’n draagbaar twee ure lank deur agt veldwagters teen die steil berghelling afgedra na ‘n wagtende voertuig. Hy is per voertuig teruggeneem na die boma in die park waar hy self uit die verdowing wakker geword het. Laaskeer toe hy weggeloop het, is hy verdoof en in ’n net van staalkabels onder aan ‘n helikopter teruggeneem park toe.
Hy is in dieselfde boma met ’n elektrifiseerde heining waarin hy die vorige keer aangehou is geplaas.
Volgens ’n mediaverklaring van SANParke was die leeu ietwat senuweeagig en parkbestuur het besluit om niemand behalwe die noodsaaklikste personeel in die omgewing van die boma toe te laat nie. “Ons is bang hy beseer homself wanneer hy in die heining vashardloop omdat hy dink hy word steeds agtervolg,” lui die verklaring.
Die rondlopery, waartydens hy ’n bees gevang het, het hom klaarblyklik honger gemaak, want teen Saterdagoggend het hy reeds die helfte van die gemsbokkarkas wat voor sy terugkeer in die boma gelaat is, verorber. Die enigste mense wat naby die boma mag kom is die veldwagter wat elke paar dae vir hom ’n vars karkas gaan aflewer.
Sylvester gaan ’n wyle in die boma waar genoeg kos, skuiling en water is vertoef. ’n Besluit oor sy lot sal geneem word wanneer hy rustig geraak het en parkbestuur en kundiges besluit het wat met hom gedoen moet word. Niemand weet hoe lank dit gaan duur nie, maar daar is geen haas nie.