"Dit was 'n baie moeilike besluit om hom van kant te maak, maar 'n nugter besluit wat nie deur sentiment beïnvloed is nie, moes geneem word."
“’n Leeu wat eenmaal onderdeur ’n draad gekruip het, sal dit altyd weer doen,” sê Fayroush Ludick, woordvoerder vir SANParke se Border-groep van parke.
“Sylvester het uitgevind dat dit moontlik is en hy gaan dit weer doen. Daarom help dit ook nie om hom na enige ander park te skuif nie, hy gaan net weer deur ’n heining kruip.”
Indien dit gebeur is daar geen waarborg dat die leeu nie ’n mens sal aanval nie, want hy beskou ’n mens bloot as ’n maaltyd. “Dit is ons verantwoordelikheid om te verhoed dat dit gebeur.”
Sylvester het tydens sy vorige omswerwinge ook geleer dat vee ’n makliker prooi as wildsbokke is. Hy het wild en vee gevang en Maandag, die eerste dag wat hy weer buite die park was, ’n bees gevang.
“Die leeumannetjie het nou ’n skadeveroorsakende probleemdier geword. Ons moet sorg dat vee- en wildboere nie verder skade ly nie,” sê Ludick.
Sylvester het net soos in 2015 deur ‘n opening in ’n lopie onder die geëlektrisifeerde heining gekruip. Omdat die park teen ‘n helling in die Nuweveldberge buite Beaufort-Wes lê, word klippe wat in slote onder die heining gepak word, weggespoel wanneer dit reën.
Leeus kruip nie net deur gate wat soos in die geval veroorsaak is deur ’n lopie wat na reën afgekom het nie. Navorsing het getoon dat ’n leeu wat deur ’n heining wil kruip ’n bestaande gat, wat deur grawende diere soos erdvarke, bosvarke, jakkalse, ratels en selfs ystervarke gemaak is, sal groter maak totdat hy deur die opening pas. Hy is ook heeltemal in staat daartoe om self ’n opening onderdeur ’n heining te maak.
“’n Leeu wat wil uitkom sal hom nie laat binne hou nie – dit is sy natuur.”
Ludick wou haar nie uitspreek oor sogenaamde petisies teen die verwydering van die leeu wat op sosiale media die ronde doen nie. “Ons wag vir kommentaar van SANParke se hoofkantoor en gaan nie op sosiale media kommentaar lewer nie.”
Klik hier vir verwante artikels:
- Sylvester die leeu weer tuis
- Opvolg: Karoo-leeu terug na 3 weke
- Escaped lion finally caught
- Hulp uit alle oorde om leeu te vang
- Opvolg: Leeu te slim vir spoorsnyers
- Opvolg: Leeu glo in Noord-Kaap
- Helikopter ingespan vir leeu-soektog
- Leeu speel wegkruipertjie
- Opvolg: Spore gevind na leeu ontsnap
- Lion breaks out of Karoo National Park
ARTIKEL: TISHA STEYN