KLEIN KAROO NUUS - ‘n Skenking van mielies ter waarde van R136 000 uit die Vrystaat bring groot verligting vir sybokboere van die Klein-Karoo.
“Die 270 sakke mielies is geskenk deur Gilly Scheepers, landbouprodusent in die Bethlehem/Paul Roux-omgewing en voorsitter van OVK,” sê Weeber Truter, sybokhaarboer.
“Gilly het reeds verlede jaar begin om van sy suikerboonhooireste aan ons te skenk. Verlede Saterdag het hy laat weet dat hy graag sybokboere in die Klein-Karoo ‘n vrag losmaat mielies wil skenk."
Anton le Roux het die mielies Oudtshoorn toe vervoer teen R23 000 per vrag, en Kobus Theron en sy span van Klein Karoo Agri het die mielies versak. Die koste van ‘n sak mielies beloop slegs R45, wat vervoer insluit teenoor meer as R170 per sak as boere die mielies moes aankoop.
Volgens Truter het die droogte van die afgelope vyf jaar die 14 lede van die Klein Karoo Sybokhaarkwekersvereniging (KKSKV) genoop om hul kuddes met bykans die helfte te verminder. Truter sê die meeste bokke word teen ‘n laer prys aan produsente in ander streke verkoop.
Weeber Truter, regs agter, by personeel van Klein Karoo Agri en sybokboere wat baat by die skenking van bykans 36 ton mielies. Foto: Hannes Visser
“Ek weet nie wat die reënval tot dusver vanjaar is nie, maar dit was min. Die damme is leeg, daar is geen plantegroei nie, net rooigrond waar jy kyk. Daar is geen weiding oor nie, die diere word volledig gevoer.
“Om te oorleef, gebruik boere al hul reserwes soos beleggings en verkoop gedeeltes of geheel en al hul eiendom. In my gebied is daar nie meer boere oor nie, die plase is opgekoop deur ‘n maatskappy."
Volgens Truter is sybokhaarpryse bo verwagting goed, maar die lae produksie kelder die inkomste.
“Alhoewel die skenking nie in al ons behoeftes voorsien nie, is ons dankbaar en dit bring vir ons verligting. Die produsente spreek hul opregte dank uit aan Gilly en sy familie vir die pragtige gebaar.”
Truter sê ook dat Scheepers aangedui het dat hy nog voer beskikbaar het as sybokboere die vervoer kan voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'