OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 60 werknemers van die Oudtshoorn-munisipaliteit se departement gemeenskapsdienste het sedert Donderdag 19 Oktober 'n verwaarlose en vuil NA Smit-swembad en sy geboue help opgradeer.
Enkele dae voor die SWD-swemfederasie se eerste van twee gala's om vir die interprovinsiale swemkampioenskappe te kwalifiseer, was die swembad se water grasgoen, die geboue vervalle met stukkende ruite en verf wat afgedop het.
Dit was duidelik dat 'n swemgala nie daar kon plaasvind nie.
Dave van der Walt, sekretaris van die Eden-sportraad het sy ontevredenheid uitgespreek oor die toestand van die swembad en die munisipale raad se visie om sporttoerisme in Oudtshoorn te bevorder, bevraagteken.
Raadslid George Kersop (wyk 2 se raadslid) het Donderdag ingegryp en die departement gemeenskapsdienste opgekommandeer om die swembad se water skoon te kry, die geboue te verf, stukkende ruite en deur te vervang en die tuin rondom die swembad te verfraai.
Vrydag het die bestuur van die Eden-swemfederasie, onder leiding van hul voorsitter, Raymond Pollicute, die swembad kom inspekteer en besluit dat die gala kan voortgaan.
Die opgegradeerde Kerstraat-swembad, net voor dit Donderdag vol water getap sou word.
Pollicute het Dinsdag aan die Oudtshoorn Courant gesê, "ons wil nie gala's van Oudtshoorn onttrek nie. Ons wil die dorp ondersteun en sal selfs help om die geriewe op standaard te kry."
Pollicute het die versekering gegee dat groot swemgala's reeds vir Oudtshoorn geboek is. Dit sluit die SA-swemkampioenskappe in April 2018.
Intussen is die Kerkstraat-swembad en geboue ook opgegradeer. Die munisipaliteit sou vandag, Donderdag 26 Oktober, begin om dit met water te vul.
Ten opsigte van die NA Smit-swembad verleentheid, het munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, Woensdag gesê,
"'n interne ondersoek is aan die gang."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'