OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Rylands in die Kaap wat in 2016 met 2 602 perlemoene (sowat 407 kg) naby De Rust in hegtenis geneem is, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof 'n boete van R120 000 of drie jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy vir die onwettige besit en vervoer van perlemoen skuldig bevind is.
Iqbal Hassim Ally (54) het 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy het erken dat hy in 2016 deur ene Parker, glo 'n Pakistani, genader is om vir hom die perlemoen vanaf Kaapstad na Johannesburg te vervoer waarvoor hy R10 000 aangebied is.
Hy het aanvanklik geweier, maar tog later ingestem.
Parker het glo op 'n dag die perlemoen in 'n Volkswagen Jetta na sy woning gebring en aangesê watter roete om te volg.
Ally erken dat daar 'n korter roete was, maar hy het tog Parker se voorgestelde roete gevolg.
Op 12 Junie 2016 is hy naby De Rust deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem omdat hy sonder 'n permit perlemoen vervoer het.
Ten spyte van sy pogings om Parker in die hande te kry was hy onsuksesvol en hy het nooit die R10 000 wat hy beloof is ontvang nie.
Ally is volgens sy pleitooreenkoms deur streeklanddros Retha Pretorius gevonnis tot R120 000 of 3 jaar gevangenisstraf waarvan R80 000 of 2 jaar gevangenisstraf voorwaardelik vir 5 jaar opgeskort is.
William Aadil Kirsten het vir Ally en adv. MG Jaxa vir die staat verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'