OUDTSHOORN NUUS - Petrus van Willing (51) van Calitzdorp, die man wat sy motor oorlaai en 'n ongeluk veroorsaak het waarin 'n jong pa van drie minderjarige kinders gesterf het, en aan strafbare manslag skuldig bevind is, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir 24 maande onder huisarres geplaas en 'n boete van R15 000 opgelê. Sy rybewys is ook vir 'n jaar opgeskort.
Streeklanddros Retha Pretorius het in dié lang uitgerekte saak bevind dat dit growwe nalatigheid van Van Willing was wat gelei het tot die ongeluk en dood van die 24-jarige Keanan Prinsloo.
Die ongeluk het op 29 Desember 2016 op die Calitzdorp-pad plaasgevind.
Van Willing het 'n bakkie waarin Prinsloo 'n passasier was, met sy oorlaaide Mercedes Benz-motor probeer verbysteek maar van plan verander uit vrees dat hy met 'n aankomende voertuig sou bots.
Sy motor het die sleepwaentjie agter die bakkie getref en albei voertuie het omgeslaan.
Daar was agt volwassenes en twee kinders in sy motor.
Van Willing se regsverteenwoordiger, Clyde Avontuur, het betoog dat hy die ligste moontlike straf opgelê behoort te word en dat korrektiewe toesig nie 'n "sagte" opsie sal wees nie.
Volgens hom is geen getuienis voor die hof dat die oorlaaide motor van die beskuldigde 'n effek op sy bestuursvermoë gehad het soos wat die staat aanvoer nie.
Volgens hom sou Prinsloo waarskynlik nie gesterf het as hy nie die bakkie se deur tydens die botsing oopgemaak het en uitgeval het nie.
Avontuur het voorts betoog dat die beskuldigde reeds vir meer as drie jaar met 'n swaard oor sy kop loop en finansieel reeds duisende rande verloor het. Sy motor is afgeskryf waarvoor hy niks van die versekering ontvang het nie. Hy onderhou sy moeder en sien om na 'n aangenome kind waarvoor hy geen staatshulp ontvang nie.
Volgens Avontuur was die beserings wat van sy passasiers opgedoen het ook redelik lig.
Staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof versoek om 'n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) op te lê waarvolgens 'n beskuldigde ten minste 'n sesde van die vonnis agter tralies moet deurbring.
Volgens Vister neem noodlottige padongelukke in die land toe en word die meeste daarvan veroorsaak deur roekelose en nalatige voertuigbestuurders soos Van Willing.
"Dit is net blote genade dat net een persoon in die ongeluk dood is. Die hof moet 'n vonnis oplê wat die regte boodskap uitstuur. Die beskuldigde het sy motor oorlaai, teen 'n hoë spoed en onder die invloed van alkohol bestuur," het Vister gesê.
Volgens haar moet die howe ook na die slagoffer se belange kyk.
"'n Jong man en pa van drie kinders is in die ongeluk dood en geen vonnis kan daarvoor vergoed nie. U het geweldige hartseer veroorsaak en ten minste een van die volwasse passasiers in die motor het u gevra om spoed te verminder waaraan u nie gehoor gegee het nie." Twee van sy passasiers moes operasies vir hul beserings ondergaan en vir lang tydperke tuis aansterk sonder enige inkomste.
Volgens die landdros is die sterftesyfer op Suid-Afrikaanse paaie tans die hoogste ter wêreld en is drank en bestuurders wat nie by die spoedgrens hou nie die oorsaak van die meeste ongelukke.
Die beskuldigde sal nietemin vir die res van sy lewe met die wete moet saamleef en is sy van mening dat dit 'n straf op sy eie is.
Van Willing is 'n boete van R15 000 of twaalf maande gevangenisstraf opgelê sowel as 24 maande korrektiewe toesig wat onder andere behels 24 uur per dag onder huisarres vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en vir 18 uur per maand gemeenskapswerk verrig. Sy rybewys is ook vir 12 maande opgeskort.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'