OUDTSHOORN NUUS - Dis veilig om te sê dat Oudtshoorn se beste kans om in die onmiddelike toekoms 'n Protea-krieketspeler op te lewer in die hande van Glenton 'Tokka" Stuurman lê.
Dié gebore Oudtshoorniet en oud-SWD-speler woon deesdae in Port Elizabeth waar hy vir die Warriors speel.
Stuurman se insluiting by Krieket Suid-Afrika (KSA) se 3T Solidarity Cup wat oor die naweek gespeel is, het menige krieketliefhebbers laat regop sit omdat slegs twee van die aanvanklike groep spelers (24) nog nooit voorheen vir die Proteas gespeel het nie.
Die naaste wat Stuurman aan die groen en goud kon kom was toe hy verlede jaar Desember vir die SA A-span opgeroep is wat teen Engeland gespeel het.
In die afgelope naweek se 3T Solidarity Cup-wedstryde het Stuurman nie teleurgestel nie en in die konteks van die wedstryd teen Mr. D Food Kitesspan skitterend vir sy span, OUTsurance Kingfishers gevaar en 2 paaltjies vir 26 lopies in sy toegelate drie boulbeurte laat kantel. In die OUTsurance Kingfisherspan het Stuurman die kleedkamer met groot name soos Faf du Plessis (voormalige Protea-kaptein), Reeza Hendricks, Tabraiz Shamsi en Heinrich Klaassen gedeel.
Stuurman sê alhoewel hy SWD-krieketunie baie verskuldig is, sy uitkyk oor die spel drasties by die Warriors verander het.
"Ek het altyd geweet dat ek die talent het om akkuraat wicket to wicket te boul. Die skuif Baai toe het wondere vir my spel gedoen omdat die professionaliteit en ingesteldheid waarmee jou medekollegas die spel en oefeninge by 'n tipiese franchise benader aansteeklik is, en 'n ou dink ook konstant hoe om jou eie game aan te pas."
Op 'n vraag of hy dink dat sy ouderdom (27) dalk teen hom kan tel vir toekomstige opname in die Proteaspan het Stuurman gesê dat boulers oor die algemeen van 26-jarige ouderdom eers ryp word om te pluk.
"Selfs legendes van die spel soos Vernon Philander en Mike Hussey van Australië het redelik laat in hul krieketloopbaan hul toetsbuiging gemaak. As ek egter aanhou die bal die praatwerk laat doen sal ek hopelik my kans kry. Van my kant af moet ek net seker maak ek is gereed as dit wel eendag gebeur."
Stuurman boul konstant tussen 135 en 138 km per uur en daar word selfs in krieketkringe vergelykings getref dat sy boulstyl dieselfde is as die snelbouler van Australië, Josh Hazlewood en SA se Vernon Philander.
"Dis natuurlik 'n groot eer om met sulke groot spelers van krieket vergelyk te word, maar op die einde van die dag is my mikpunt om die beste Glenton Stuurman te wees wat ek denkbaar kan wees. Soos die spelers waarmee ek vergelyk word, is my sterkpunt om op alle oppervlaktes 'n irriterende lyn en lengte te handhaaf en ook om omgekeerde swaai op lewelose oppervlaktes te bewerkstellig. Om paaltjies vir my span te neem wanneer hulle dit die nodigste het is waarvoor ek leef," het Stuurman gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'