OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor en die Kango-grotte was verlede week by die Caravan Show in Midrand.
Volgens Corleen Barnard, toerismebestuurder, was sy en Leigh-Ann Coetzee-Noemdoe, 'n gids van die grotte by die bemarkingsgeleentheid waar hulle die toerisme-aantreklikhede van Oudtshoorn en De Rust bemark het.
"Dit was 'n ongelooflike goeie geleentheid om by te woon en die belangstelling in ons streek was fantasites. Dit is die toerismeburo se mandaat om die streek te bemark. Ons wil graag vir die mense van ons land wys wat ons streek het om te bied.
"Ons kom by dié geleenthede agter hoe uitgehonger mense is om net weer deur die land te toer en te verken, en waar beter om die mooi wat ons land bied te sien as in die Karoo," het Barnard gesê.
Volgens haar was die Caravan Show op die publiek gemik, maar het hulle ook die afgelope naweek die geleentheid gehad om internasionale reisagente te wys wat in die streek aangaan.
"Internasionale markte is vir ons ewe belangrik. Toerisme het weens Covid swaar getrek, maar dit begin al beter gaan. Ons het al internasionale toeriste in die streek verwelkom en deur die besoek van die naweek hoop ons om nog baie te verwelkom."
Leigh-Ann Coetzee (Kango-grotte) en Corleen Barnard (toerismebestuurder) het die streek verlede week in Midrand gaan bemark.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'