BEAUFORT WES NUUS - Die Beaufort-Wes se provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid vir narkotika se ondersoekbeamptes is onlangs geloof vir die uitstekende werk wat hulle teen oortreders van onwettige dwelmhandel voer.
Die oortreders is die afgelope maand in die Beaufort Wes-streekhof strawwe vonnisse opgelê.
In 'n persverklaring deur Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcom Pojie, was daar drie insidente wat onlangs in die Beaufort-Wes-streekhof afgehandel is:
Eerste insident
Op 11 Oktober 2018 rondom 08:50, het beamptes van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid vir narkotika onraad vermoed en 'n Toyota Avanza met 'n sleepwaentjie op die N1 naby Leeu Gamka afgetrek en deursoek, sakke vol marijuana is in die voertuig gevind. Die twee insittendes is gearresteer en aangekla en het voor die Beaufort-Wes-streekhof voorgekom.
Senzeni Dayimani is aan die handel van dwelms skuldig bevind en agt jaar gevangenisstraf opgelê en Relebhohile Kokoana is aan die oortreding van die immigrasiewet skuldig bevind en ’n boete van R6 000 of ses maande tronkstraf opgelê.
Tweede insident
Op 17 Oktober 2021 het beamptes van Beaufort-Wes se provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid vir narkotika, die Sentrale Karoo se K9-eenheid bygestaan toe hulle 'n verdagte Toyota Quantum-minibus deursoek het en 'n groot aantal versteekte dagga gevind het. Die twee insittendes is op die toneel gearresteer en van die handel in marijuana aangekla.
Albert Lewela en Maples Ralipholo is albei op 27 Mei skuldig bevind vir die handel van marijuana. Hulle is ’n boete van R30 000 of ses jaar tronkstraf opgelê.
Derde insident
Op 10 Junie 2019 is Philasanda Maphangela naby Leeu Gamka op die N1 deur die Beaufort-Wes se provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid vir narkotika voorgekeer en sy Toyota Quantum-minibus deursoek. 'n Groot hoeveelheid marijuana is in die minibus gevind en Maphangela is gearresteer.
Maphangela is op 27 Mei ’n boete van R20 000 of agt jaar tronkstraf opgelê.
Kommissaris bedank almal
Lt. Thembisile Patekile, provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap prys en bedank almal wat betrokke was met die verskeie arrestasies.
"Die wat hulself aan die verkeerde kant van die wet vind, sal teen die volle vors van die wet te staan kom wanneer hulle gearresteer word," het Patekile gesê.
'Ons bring vir jou die nuutste Beaufort Wes, Klein Karoo nuus'