OUDTSHOORN NUUS - Twee raadslede wat verlede week 'n strategiese sessie in Mosselbaai moes bywoon het, het geweier om te gaan omdat hulle nie die belastingbetalers se geld wil mors nie.
Die strategiese sessie was gereël vir die ANC-koalisiepartye, die ANC, PA, Advieskantoor, Icosa, Good, Saamstaan en vier munisipale amptenare.
Die twee raadslede wat dit nie bygewoon het nie was Leon Campher van die Advieskantoor en Suzane Jansen van die Patriotic Alliance (PA).
Die PA het hulle verlede week aan die koalisie onttrek en Campher het Dinsdag aangedui dat hy nog deel is van die koalisie, maar dat hy nie gelukkig is met hoe sake tans in die koalisie bestuur word nie.
Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant ontvang het, het die sessie in Mosselbaai, by 'n baie duur hotel by Mosselbaai Punt, etlike duisende rande beloop en was dit 'n onnodige uitgawe omdat daar geriewe in Oudtshoorn is wat verniet deur die raad gebruik kon word. Volgens wat vasgestel kon word was daar ongeveer 14 persone.
Volgens Campher het hy twee dae te vore gehoor dat die sessie sou plaasvind en sou hy dit in Mosselbaai bywoon.
"Die volgende dag sien ek dat mense bagasie het. Daar was geen kommunikasie oor hoe dit gaan werk of wat presies gedoen sou word nie. Ek sou ook met my eie voertuig deurry. Toe ek uitvind dat ons gaan oorslaap het ek vir hulle gesê ek gaan nie saam nie, want dit is geld wat gemors word."
Volgens Campher het die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, wel gesê dat daar geld in die begroting is vir die sessie.
"Ek kan net nie dat ons munisipaliteit duisende rande begroot vir strategiese sessies vir raadslede en amptenare as daardie geld gebruik kan word om werklose mense aan te stel nie. Hoekom kan ons nie verniet ons eie geriewe ondersteun nie?"
Campher sê daar is verskeie kwessies binne die koalisie waarmee hy nie saamstem nie.
"Ek het gepraat oor onder meer aan-stellings wat gemaak is. Daar is nog baie goedjies wat krap waarmee ek nie tevrede is nie. Die werksessie is maar net een van dit."
Jansen voel net so sterk oor die "vermorsing van geld". "Dit is verregaande. Ons as raadslede het 'n plig om die mense te dien ná die verkiesing ook. Dit is baie geld wat na 'n ander dorp gaan en nie na ons mense nie. Dit gaan so swaar hier, maar die munisipaliteit wil duisende rande op strategiese sessies spandeer."
Die waarnemende munisipale bestuurder Walter Hendricks het gesê die vergadering in Mosselbaai was 'n strategiese sessie met die koalisievennote.
"Daar was 'n volledige program en die uitkomste sal aan die raad voorgelê word. Weens die aard van die spanbou was dit raadsaam om buite die grense van Oudtshoorn so 'n sessie te hou. Slegs die regerende koalisie en vier amptenare het die spanbou bygewoon. Dit was vir een en 'n halwe dag: Woensdag 23 Februarie tot halfdag Donderdag 24 Februarie."
Volgens 'n raadslid wat dit bygewoon het, en anoniem wil bly, is die sessie met amptenare gehou om te kyk hoe die dorp beter bestuur kan word.
"Dit was 'n goeie sessie en goed vir die span se moraal om buite Oudtshoorn te wees. Ons het baie geleer."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'