OUDTSHOORN NUUS - Motoriste wat na willekeur en soms sonder enige berou verkeerswette oortree sal binne die volgende aantal maande twee keer moet dink.
Die Oudtshoorn Courant het na aanleiding van 'n aantal ongelukke waarby een persoon die afgelope maande betrokke was, vir Kenny Africa, provinsiale verkeershoof van die Wes-Kaap, gevra hoe die voorgestelde strafpuntstelsel wat deur die parlement goedgekeur is, sal werk.
Volgens Africa sal strafpunte gegee word vir elke oortreding waarvoor 'n motoris 'n boete opgelê word en elke oortreding waarvoor daar 'n skuldigbevinding in 'n hof gemaak word. Die aantal strafpunte per voorval sal wissel na gelang van die erns van die oortreding. Die punte word op die AARTO-sisteem op die motoris se profiel aangebring en sodra 'n persoon 13 strafpunte het word sy rybewys ingetrek.
Volgens Africa moet president Cyril Ramaphosa nog net die wet onderteken voordat dit in werking gestel word. Hy sê die wet is spesifiek ingestel om mense wat gereeld oortree vas te vat. "Ons kry sommige motoriste wat 'n boek vol oortredings het en dan die boetes betaal en maar net weer oortree."
Die Oudtshoorn Courant het al dikwels voorvalle gedek waar dieselfde persone betrokke is. Een van die persone is byvoorbeeld 'n bekende amptenaar wat reeds verskeie kere vir dronkbestuur aangekeer is.
Die Chev Sonic nadat dit verlede week 'n paal naby die hospitaal getref het.
Foto: Verskaf
In die jongste voorval het 'n motorbestuurder verlede Woensdagnag 'n lamppaal naby die hospitaal getref met dieselfde Chev Sonic waarin die bestuurder skaars twee weke vantevore in 'n botsing in St Georgesstraat betrokke was. Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar in Augustus berig toe dieselfde bestuurder in Buitekantstraat met 'n Nissan Qashqai van agter met 'n stilstaande bakkie gebots het. Die persoon is op die toneel in hegtenis geneem vir dronkbestuur, maar het nog nie in die hof verskyn nie.
Volgens inligting wat bekom is, was dieselfde persoon ook met twee ander voertuie in twee afsonderlike botsings betrokke.
Gerald Becker, provinsiale verkeershoof van die Klein-Karoostreek, het Sondag tydens 'n padblokkade in Voortrekkerweg ook na die strafpuntstelsel verwys en gesê dit sal positief bydra tot die bekamping van verkeersoortredings en veral om herhaaldelike oortreders vas te vat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'