OUDTSHOORN NUUS - Die ontwrigting van vullisverwydering verlede week was as gevolg van onveilige toestande by die stortingsterrein.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het mense wat rommel by die munisipale stortingsterrein versamel, die personeel van reinigingsdienste met fisiese geweld gedreig.
Volgens hom is die bestuurders van die vullisverwyderingsvragmotors, sowel as die ander personeel met skerp voorwerpe gedreig en onder klippe gesteek. Hy het Woensdagoggend bevestig dat die munisipale bestuur ingegryp het en veiligheidsmaatreëls ingestel het.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het bevestig veiligheidsmaatreëls by die stortingsterrein is versterk en vullisverwydering gaan weer normaal voort.
"Die polisie is betrek en die munisipaliteit het sekerheidsbeamptes by die ingang van die stortingsterrein aangestel," het Paulse gesê.
Paulse het inwoners wat self vullis by die stortingsterrein weggooi gevra om vir veiligheidsdoeleindes eerder Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 17:00 en Saterdae tussen 08:00 tot 14:00 te gaan aangesien die veiligheidswagte dan op diens is.
Die stortingsterrein sal nie Sondae oop wees nie en die tye is ook vir publieke vakansiedae geldig.
"Die sekerheidswagte is vir die veiligheid van ons personeel en inwoners van ons dorp aangestel. Diegene wat na-ure na die stortingsterrein gaan, doen dit op eie risiko," het Paulse gewaarsku.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'