LEEU-GAMKA NUUS - Die meer as 60 mm reën, wat voorverlede Vrydagmiddag binne twee ure in en om Leeu-Gamka aan die N1 geval het, het dié dorpie se strate binne minute in riviere verander en duisende rande se skade aangerig.
Die ruite van meer as 30 huise is beskadig, met heelwat buite strukture wat omgewaai of inmekaargestort het. Twee huise se dakke het afgewaai en 'n nuwe muur om die sportterrein het omgeval.
Die muurskade alleen word op nagenoeg R250 000 geraam.
Dié wolkbreuk en flitsvloed het gepaard gegaan met hael en 'n stormsterk wind. Teen die aand omstreeks elfuur het inwoners steeds die hael met grawe van dakke en sypaadjies verwyder, het Herman Baadjies, 'n inwoner, gesê.
Goliat Lottering, die burgemeester van Prins Albert (waaronder Leeu-Gamka ressorteer), het by navraag gesê "ingenieurs het die muur reeds afgeteken" en die skade is vir die rekening van die Prins Albert-munisipaliteit.
"Die wolkbreuk, wind en hael het baie skade aan woonhuise en woonstrukture aangerig. Waar nodig sal die munisipaliteit deernisgevalle help, maar inwoners wat dit kan bekostig is self vir die herstel van skade aan hul huise verantwoordelik. Ons maak nou 'n volledige opname van die skade op Leeu-Gamka. Dis nog nie afgehandel nie."
Volgens Anneleen Vorster was die muur om die sportterrein in die eerste boufase. "Ons voorlopige bepaling is R250 000 vir hierdie spesifieke skade. Ongelukkig was die muur nog nie voltooi nie, so dit kon nie verseker word nie. Dit was ook slegs 'n arbeidstender, dus is die kontrakteur nie verseker nie. Ons sal maar weer in die nuwe begroting vir die herstel van dié skade moet begroot.
Dakplate wat tydens die storm in Leeu-Gamka afgewaai het. Foto's: Marlene Malan
Die gemiddelde jaarlikse reënval in Leeu-Gamka is sowat 176 mm. Die Sentraal-Karoo is van die ergste droogtegeteisterde gebiede in die land, met 'n gemiddelde reënval die afgelope jare van minder as 100 mm. Ná die skielike en harde reënbui het die droë Gamkarivier, sowat 20 km van Prins Albert, weer vir die eerste keer in vier jaar water. Maar, in Prins Albert self het nog nie 'n druppel geval nie.
Geen reën word vir die afsienbare toekoms hier voorspel nie – terwyl temperature daagliks tussen 36 en 40°C wissel.
'Ons bring jou die nuutste Leeu-Gamka, Klein Karoo nuus'