OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Stolsvlakte wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof as gevolg van 'n vol hofprogram vir die res van die jaar, vir verdere verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Koos van der Horst (34), wat glo saam met sy broer in Mei 2017 'n bejaarde winkeleienaar, die 78-jarige Frans Tredoux, in sy winkel met 'n knopkierie geslaan, met 'n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof het, ontken skuld.
Sy broer, Ronaldo Olkers (20), het skuldig gepleit en is reeds tot 13 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Van der Horst ontken nou dat hy die betrokke dag op die plaas was en dat die getuies 'n fout maak met sy identifisering. Volgens hom was hy in 2003 laas daar.
Frans se vrou, Cornelia Tredoux (71) het getuig dat dit beslis Van der Horst en sy broer was wat sy die betrokke oggend deur haar kombuisvenster by die winkel gesien het. Sy het onder kruisverhoor deur die beskuldigde se regsverteenwoordiger, adv. Stephen Lourens, getuig dat sy nie kan onthou waarom die polisie 'n tweede verklaring van haar geneem het nie.
Sy het ook ontken dat sy vir die polisie gesê het dit was Koos Olckers en Ronnie van der Horst. Lourens het dit aan Tredoux gestel dat sy nie weet wie die twee persone is wat om diens by die winkel geroep het nie en dus 'n fout maak met die identifisering van die beskuldigde
Hannetjie Jansen, wat naby die winkel woon, het getuig dat sy die betrokke oggend die twee broers vinnig van die winkel se kant sien loop het.
Sy was nie seker of hulle van die winkel gekom het nie, maar seker dat hulle "van daardie kant" gekom het.
Die saak is Dinsdag vir verdere getuienis deur streeklanddros Sylvia Mandla tot 25 Februarie 2020 uitgestel en Van der Horst bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'