OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn, wat 'n vrou op die plaaslike gholfbaan voorgekeer, probeer verkrag en beroof het, is verlede week in die streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur.
Denzil Prinsloo (30) is skuldig bevind aan poging om te verkrag en gewapende roof deurdat hy op 2 Julie 2016 die 25-jarige Caylene Arries met 'n mes gedreig, probeer verkrag en toe van haar selfoon van R1 800 en R350 kontant beroof het. Hy het weggehardloop, maar is later deur haar uitgeken.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Prinsloo die minimum vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf op te lê vir verswarende roof en tien jaar vir poging tot verkragting.
Hy het twaalf vorige veroordelings en die hof moet 'n duidelike boodskap uitstuur vir verkragters en voornemende verkragters. Vroue en kinders moet beskerm word om vrylik te kan rondloop.
Prinsloo het geen berou getoon nie en volstaan by sy onskuld tot die einde ten spyte van verdoemende getuienis teen hom.
Onder sy vorige veroordelings is twee soortgelykes terwyl hy ook al sy paroolvoorwaardes verbreek het. Hy toon 'n geneigdheid om dieselfde tipe misdrywe te pleeg en dit is duidelik dat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking gehad het nie. Verder het hy die misdrywe beplan en uitgekyk vir sy weerlose prooi, het Goulding gesê.
Die klaagster het ook nie haar selfoon en ander besittings teruggekry nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het Arries as 'n betroubare getuie beskryf terwyl Prinsloo nie 'n goeie indruk op die hof gemaak het nie. Sy het egter afgewyk van die voorgeskrewe vonnisse en Prinsloo tot agt jaar vir poging tot verkragting en sewe jaar vir verswarende roof opgelê.
Die vonnisse is nie samelopend nie wat beteken dat Prinsloo vyftien jaar agter tralies sal moet deurbring. Hy is reeds voorheen onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'