LADISMITH NUUS - 'n Egpaar van hier is binne 'n week na mekaar aan Covid-19-verwante oorsake oorlede en 'n derde persoon is ook in dieselfde tyd dood.
Patrick Januarie (49), 'n oudsoldaat is verlede Maandag, 18 Januarie, onderweg na George in 'n ambulans oorlede.
Die ambulans het in die Huisrivierpas tussen Ladismith en Calitzdorp omgedraai toe Januarie beswyk het.
Kort nadat sy vrou, Maryka (43), begrafnisreëlings vir haar eggenoot gereël het, het sy ook siek geword en is op Maandag 25 Januarie in die Alan Blyth-hospitaal in Ladismith oorlede. Die Januarie-egpaar laat twee skoolgaande dogters agter.
Terwyl inwoners nog die skok van die egpaar se dood verwerk, is tyding ontvang dat nog 'n jong inwoner, Josinda Herling, op dieselfde dag as Maryke aan Covid-19 beswyk het.
Sy was reeds in die George-hospitaal opgeneem. Sy laat 'n kleuterdogter agter. Patrick Januarie is Dinsdag 26 Januarie ter ruste gelê.
Met die ter perse gaan was begrafnisreëlings vir Maryke en Josinda nog nie bekend nie.
Josinda Herling is Maandag in George aan Covid-19 dood.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'