OUDTSHOORN NUUS - Die stigting van die plaaslike sportliggaam, Oudtshoorn-sportinisiatief (OSI), is Woensdagaand, 7 Junie, by Kleinplaas-vakansieplaas amptelik afgehandel.
OSI is reeds sedert verlede jaar operasioneel en het onder andere 'n groot rol gespeel met die opknapping van NA Smit-swembad om sodoende weer groot swemgalas na Oudtshoorn te lok.
Meer as 40 rolspelers wat die sport-, besigheid-, toerisme-, munisipale en verwante sektore insluit, het die vergadering bygewoon. Na voorleggings deur Wilma Pienaar (doelwitte), Hans van der Veen (webtuiste) en Dave van der Walt (grondwet), is die grondwet eenparig aanvaar. Ook die interim bestuur om die sake verder te neem, is gekies. Hulle sal sake bedryf in aanloop tot die algemene jaarvergadering (AJV) van 30 Augustus.
Die interimbestuur is Wilma Pienaar, Hans van der Veen, Corné Botha, Stefan Henrico, Delia van Biljon en Dave van der Walt.
Fiks Blauw van die Oudtshoorn-sportraad in nog 'n inkomende bestuurslid terwyl die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit en die besigheidskamer hulle ex officio-lede moet aanwys.
Volgens een van die stigterslede, Dave van der Walt, kan OSI se leuse moontlik 'Uit die gemeenskap vir die gemeenskap' wees en voel hy dat die OSI as forum, die ideale ruimte daarvoor bied.
Van Der Walt het ook bevestig dat die interimbestuur by magte is om ook persone wat oor toepaslike vaardighede beskik, te kan inlyf.
Enige navrae kan aan Dave van der Walt by 082 7734 901 of davesusvdw@gmail.com gerig of Hans van der Veen by 083 046 20 477 of hvdveen1966@gmail.com gerig word. Aansoeke sal oop wees vir alle sektore wat met sportoerisme gekoppel kan word en wat wil affilieer. Affiliasievorms is beskikbaar by Dave van der Walt.
Volgens Van der Walt is die aansluiting tans gratis, maar sal die nuwe inkomende bestuur op die AJV later vanjaar die affiliasiefooie bepaal.
Wilma Pienaar het die verwelkominge gedoen. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’