OUDTSHOORN NUUS - Sport Buddy Charity, 'n liefdadigheidsorganisasie wat in 2019 gestig is, het die afgelope Vrydag 'n reuseuitreik na inwoners van Black Joint in Bongolethu gehad.
Dié organisasie is deur Wyndham Ewerts gestig om fondse te in vir leerders wat in sport presteer, maar sukkel om groot uitgawes van deelnames of toerusting te bekostig.
"As sportjoernalis het ek die nood onder sportleerders gesien en besluit om iets daaromtrent te doen. Ons het sedert 2018 ongeveer R30 000 se skenkings aan plaaslike sportsterre gemaak."
Wyndham Ewerts (tweede van links) en lede van Sport Buddy Charity oorhandig R10 000 aan belowende sportsterre. Foto: Ebenezer Titus
Volgens Ewerts het die Covid-19-pandemie egter die sport-aspek van die organisasie effe gekniehalter, maar het dit hulle nie ondergekry om mense in nood by te staan nie. "Die nood daarbuite is steeds groot en daarom het ons besluit om vanaf Maart verlede jaar maandelikse uitreike in ons plaaslike gemeenskappe te hou om kos aan mense te voorsien."
Die uitreik aan die gemeenskap van Black Joint was een so 'n uitreik.
Ewerts sê dat sy span vir die kinders Weetbix en grond-boontjiebotter, sowel as vispastabredie gegee het terwyl lamsvleis, aartappels en rys aan die volwassenes bedien is.
Lede van Sport Buddy Charity agter die potte.
"Ons doen ook uitreike na plaasgemeenskappe omdat die nood daar net so groot is, indien nie groter nie. Ons het ook ongeveer drie maande terug ook 'n massiewe uitreik in Dysselsdorp gedoen."
Volgens Ewerts is Sport Buddy se sukses te danke aan sy sewe lede en mense en besighede wat altyd bereid is om te skenk.
"Ons kon in dié moeilike tyd reeds soveel mense in nood help en ons het net Oudtshoorn se mense om daarvoor te bedank."
Lede van die Sport Buddy Charity-span saam met Adri Odendaal van Kansa.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'