Altesaam 37 beseerdes is in die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem. Die 5-jarige seuntjie was een van hulle, maar hy is minute na sy aankoms aan veelvuldige hoofbeserings oorlede.
Sy ma was een van die pasiënte wat Stoffels besoek het. Stoffels was duidelik aangedaan toe die ma in Xhosa en deur 'n tolk vertel het van die tragiese gebeure. Alhoewel sy nie ernstig beseer is nie is sy in die hospitaal gehou totdat berading en ondersteuning vir haar gereël kon word.
In die kindersaal het Stoffels ook die ouma van Lathitha Nomnganaga (2 jaar ses maande) wat opgeneem is met veelvuldige snywonde aan sy rug, hand en gesig bemoedig. Die seuntjie het deurentyd na sy ma, wat in Kaapstad is, geroep en volgens die hoof van die hospitaal, dr. Paul Rüschenbaum, sou Lathitha hierdie week na 'n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas word om nader aan sy ma te wees. Die ouma was saam met haar kleinseun op die bus, maar het net kneusplekke opgedoen.
Na sy besoek aan die Oudtshoorn-hospitaal het die speaker ook drie pasiënte in die Mediclinic Klein-Karoo besoek en bemoedig. Later die middag moes Stoffels weer 'n onaangename taak verrig en het hy ie Kango-grotte besoek waar 'n man van 41 vroeër die oggend in 'n frats-ongeluk dood is nadat hy by trappe in die grotte afgeval het.
Die ouma van Lathitha Nomnganaga word deur die speaker, John Stoffels, bemoedig tydens sy besoek aan hospitale verlede Vrydag. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'