CALITZDORP NUUS - Mans mag die broodwinners wees, maar dis vroue wat kos op die tafel moet kry. Dit was die boodskap wat op Vrouedag aan vroue van omliggende plase in die Calitzdorp-omgewing gegee Is.
Jakob Willemse, bekende gemeenskapsleier op die dorp, het met die vroue gesels terwyl hy gratis soppakke uitgedeel het.
Die sop wat van 'n skenker uit Kanada gekry is, word met water aangemaak en een soppak kan 25 liter sop maak.
Willemse het gesê: "Die kinders kom huil by die ma as daar saans nie iets te ete is nie. Dis die ma wat saans liewer haar laaste korsie brood met haar kroos deel en dan self op 'n leë maag gaan slaap. Daarom gaan ek uit my pad om te help waar ek kan. Vrouens het nie net op Vrouedag hulp nodig nie maar elke liewe dag."
Annie Beginsel, van een van die plase het gesê: "Dis soos manna uit die hemel. Nou kan ek saans kos maak vir my gesin. Dit gaan maar broekskeur met ons hier."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'