OUDTSHOORN NUUS - Eunice Strydom, skrywer van die kortverhaalbundel, So loop die storie, het onlangs haar eerste kortverhaal bundel bekendgestel.
Die boek, wat uit 29 kortverhale oor gewone en ongewone mense bestaan, is onlangs in Oudtshoorn, by Beans about Coffee bekendgestel.
Hannes Visser, uitgewer by Turksvy Publikasies, het in 'n interaktiewe onderhoud met haar en die gehoor, meer van die boek vertel. Strydom sê sy het die aand vreeslik geniet.
"Dit was 'n heerlike aand. Die onderhoud was lekker omdat die gehoor deel gevorm het van die onderhoud," vertel Strydom.
Strydom, ook bekend as streekbestuurder van kinderbeskermingsdienste by die ACVV, het in 2002 haar meestersgraad in maatskaplike werk ontvang. Haar liefde vir skryf is vroeg aangewakker deur haar Afrikaansonderwyser op hoërskool.
Sy is later deur 'n plaaslike inwoner in Oudtshoorn aangemoedig om haar boek te publiseer. Strydom skryf vir ontspanning en het 12 aanvanklike kortverhale aan Turksvy Publikasies voorgelê. Oor 'n tydperk van 'n jaar, het sy 29 kortverhale geskryf wat geredigeer en deur Turksvy Publikasies versorg is.
Haar boek het in Julie op die rakke verskyn. Strydom het ook 'n bekendstelling in De Rust gehad en is deur twee radiostasies, EDENfm en Radio Klein Karoo vir onderhoude genooi.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'