OUDTSHOORN NUUS - Hendrik Agus (65), alombekend in Oudtshoorn as Smiley of Oom Flippie, het gister (Woensdag 23 Augustus) 'n behoorlike, respekvolle begrafnis in Dysselsdorp gekry te danke aan 'n barmhartige Samaritaan van Oudtshoorn wat hom as haar familie beskou het, al was hulle nie verwant aan mekaar nie.
Agus is oorspronklik van Dysselsdorp.
Agus se liggaam is Woensdag 16 Augustus in die veld, langs Condorstraat in Oudtshoorn, onder 'n bos gevind. Die polisie het bevestig dat hy weens natuurlike oorsake gesterf het.
Hy was bekend aan inwoners van Oudtshoorn-Noord, omdat hy daar in die veld gewoon het en gereeld in die strate gesien is. Ongeveer twee weke voor sy liggaam ontdek is het mense op Oudtshoorn-Noord se WhatsApp-groepe reeds onder mekaar na hom begin soek.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was Agus se liggaam reeds besig om te ontbind toe 'n verbyganger dit omstreeks 14:00 die betrokke dag opgemerk het.
Spies sê 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek is geopen waarna 'n naasbestaande van Agus hom geïdentifiseer het.
Die barmhartige Samaritaan wat vir Agus se begrafnis betaal het, is 'n inwoner van Noord waar Agus gereeld gesien is.
"God het my gelei om dit te doen - ek het dit bloot uit my liefde vir Smiley gedoen, nie vir 'exposure' nie," het die vrou aan Oudtshoorn Courant vertel. Sy dra die volle onkoste van die begrafnis.
Sy vertel dat Smiley vir die laaste twee en 'n half weke nie soos gewoonlik sy opwagting by haar gemaak het nie - sy het hom gereeld van maaltye voorsien.
"Dit was vir my baie kommerwekkend. Ons paaie het gekruis toe ek na Reserwe-straat getrek het. Tussendeur al die geselsies en grappies het Smiley vir my soos familie geword. Ek het in hom besondere karaktertrekke ontdek wat my na hom aangetrek het. Hy was later van tyd onmisbaar in my lewe. As hy nie uitgekom het om te kom eet nie, dan het ek sy kossies gebêre en gewag tot hy kom," het sy met heimwee vertel.
"Selfs vir my kinders en kleinkinders, was dit pret as hy hier aangekom het. Rondom sy dood - dit was vir baie van ons kommerwekkend dat hy nie meer sigbaar was nie. Toe ek die oggend my foon aansit en sien dat daar 'n liggaam gevind is het ek koue rillings gekry, want ek het daai vrees gehad dat dit Smiley kon wees. Dit was baie koud in daai tyd. Smiley wou nooit vir my wys waar hy bly nie, of hy het gesê hy gaan Dysselsdorp toe, huis toe."
Die vrou het vertel dat Agus se voorkoms nooit saakgemaak het nie. "Ek het vir myself gesê, 'nevermind' sy voorkoms, 'nevermind' die omstandighede waarin hy geleef het, vir my was hy 'n glimlag elke dag. In Smiley het ek die gawes van God ontdek. Hy was nederig, liefdevol, vriendelik - hy het al daai gawes gehad wat God van ons verwag," het sy vertel.
Dit was vir haar van kardinale belang dat Agus "waardig" begrawe word, het sy bygevoeg.
"Ek het 'n punt daarvan gemaak, wat dit my ook al sou kos, ek sal hom begrawe want ek was werklik lief vir hom. Ek mis hom elke dag. Ek kyk nog elke dag of hy nie by my agterdeur staan nie."
Forensiese dienste verwyder die liggaam uit die veld met Oudtshoorn-polisiebeamptes wat toekyk.
Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’